Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Tivan Leak

Selfmedikasie, Fokofpolisiekar se eerste album na 11 jaar, neem ’n nuwe benadering, maar tog het dit steeds die
Fokofpolisiekaressensie waarvan so baie mense hou. Selfmedikasie bevat dertien liedjies en is ’n mengsel van filosofie, kopskud en oorweldigende rustigheid.

Die album stel ’n paar interessante vrae oor ’n wye reeks temas, soos rykdom, armoede, die gejaag na wind, geloof, Afrikaners en die politieke krisis in Suid-Afrika.

Fokofpolisiekar het aan die begin van die jaar die Fokof Crowdfunding-projek geloots en oplsae gemaak deur hulle hul doelwit van R500 000 in slegs nege dae te bereik. Aan die einde van die projek het hulle ’n allemuntige bedrag van R1 081 010 ingesamel.

Dis nie meer geld wat deesdae ’n probleem vir hierdie band van Belville is nie, maar tyd, waarvan hulle besige
skedules hulle beroof. Dit is ’n welkome verandering nadat hulle dikwels op vloere moes slaap en al hulle tuinhekkie vir braaihout moes gebruik.

“Dit voel vir my soos die beste album wat ons tot dusver uitgebring het,” het skrywer en kitaarspeler Hunter Kennedy gesê. Hierdie album het iets van alles en iets vir almal. “Ons het probeer om iets anders te doen as dit wat mense sou verwag van ’n Fokof-album,” het Kennedy gesê.

Die klank van hierdie album is uniek en die groep skryf dit toe aan die musiek wat hulle deesdae luister. Daar is liedjies met invloede van bands soos Queens of the Stone Age, maar dan is daar ook selfs liedjies wat deur ’n klavier begelei word.

“Bietjie meer van ’n grunge vibe, nie dat Queens of the Stone Age baie grunge is nie,” meen Kennedy.

Selfmedikasie is geskryf om nostalgie in op te roep en mens weer toe te laat om die mooi in die nietighede van die lewe te kan raaksien.

Toe die groep gevra is of hulle nóg ’n album sal uitbring na hierdie een was Wynand, die baskitaarspeler, se reaksie: “Ons het ’n besigheid geword, obviously…”.

Daar sal nog ’n album uitgebring word indien daar ’n vraag daarvoor is. “Daar sal nog ’n album wees, al is dit eers oor tien of vyf jaar,” het Francois van Coke opgemerk.

Hierdie album het nie ’n liedjie wat bo die ander uitstaan nie. Daar is byvoorbeeld nie ’n “Hemel op die platteland” wat almal kan saamskree wanneer dit begin speel nie. Elke liedjie op die album het sy eie unieke gevoel. Met elke liedjie word die luisteraar met ’n nuwe idee gekonfronteer.

As die angs voor die eksamen te veel raak, word Selfmedikasie sterk aanbeveel.

Foto: Liam Lynch

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial