Deur Jana Burger

By wat net beskryf kan word as die feel good–konsert van hierdie jaar se Woordfees-vieringe, het “’n random band van Potch” op 16 Oktober in Jan Marais park kom optree. Die duo, Daniël Francois Marais en Johan Balt, het werklik bekend geword na die sukses van hulle liedjie “Inge 2” en is tans besig om hulle derde ateljee-album op te neem.
Die konsert was deel van die Woordfees se reeks buitelugkonserte. Mense van alle ouderdomme het dié konsert kom kyk, wat bewys dat Die Piesangskille nie net een enkele teikengroep het nie. Ten spyte van die koeler weer, het gehoorlede heerlik voor die tyd op die gras ontspan en gekuier.
Die Piesangskille het van hul bekendste liedjies soos “Haar Naam Was Somer”, “Converse”, “Hallo Vriendin” en “Hoe Nou?” opgevoer. In die middel van hulle optrede het hulle die gehoor effens verwar en begin om ’n mengelmoes van lukrake covers te sing (“Leeuloop” en “Sweet Caroline” in dieselfde liedjie was nou nie juis op enigiemand se bingokaart nie).
Gelukkig het hulle weer sterk geëindig met van hul beste treffers soos “Diepseeduiker 17” en “Inge 2”. Deur die loop van die konsert het die gehoor baie entoesiasties saam gesing en gedans.
“Ons het [die konsert] gelove! Dis baie lekker om [Die Piesangskille] hier in Stellenbosch te sien,” sê Valme van Wyk en Francia Streicher.
Die Piesangskille het ’n energieke vertoning gelewer en hul konsert was ’n goeie middel-van-die-week-breuk om op te maak vir daardie “Mal Maandagaande”.