‘Binnerym van bloed’: Antjie Krog se afskeidswoorde
Deur Jana Gous

Daar is min skrywers wat so ’n groot impak op die Afrikaanse literêre landskap gemaak het soos Antjie Krog. Haar nuutste, en in haar eie woorde “laaste”, boek is ’n outobiografiese roman wat handel oor haar skrywersma, Dot Serfontein.
Op 14 Oktober het Krog tydens die Toyota Woordfees in gesprek getree met Andries Bezuidenhout oor Binnerym van bloed. Voor ’n uitverkoopte gehoor in Kruiskerk het hulle die tema van ma-dogter-verhoudings in die letterkunde ondersoek, en Krog het insig gegee oor die konteks van die gebeure en karakters in haar roman.
Bezuidenhout het intieme vrae aan Krog gestel, wat sy met grasie en ’n skerp sin vir humor beantwoord het. Krog en Serfontein was beide polities uitgesproke en het ’n komplekse ma-dogter-verhouding gehad, dikwels aangehits deur die media. “Sodra iemand ’n skrywer in ’n familie word, sterf die familie,” het Krog vertel. “Dit is so, maar tog ook nie. Dit is ’n voorreg om een van die min families te wees wat vir altyd op papier gaan lewe.”
Die onvermydelike vraag: “Wie mag oor wie skryf?” het opgekom. Krog het verduidelik dat ’n skrywer en ’n teks met integriteit verskeie uiteenlopende wêrelde kan uitbeeld. Die gehoor was in afwagting toe Bezuidenhout vir Krog vra oor haar dreigement – om nooit weer te skryf nie. Krog antwoord: “Ek vind die land jonk en onverstaanbaar. Dit blom en dit bloei. Dit is tyd vir nuwe skrywers om voor te loop.”
Binnerym van bloed is ’n intieme blik op ’n ma en haar dogter, en ’n afskeidsgebaar van een van die mees invloedryke stemme in die Afrikaanse letterkunde. Krog het dit reggekry om met deernis en digkuns die vrae van ’n hele generasie oop te skryf, en terselfdertyd die pad vir nuwe stemme te verlig.
Ryan Pedro: prins van die block by die Woordfees
Deur Zandri van Greunen

’n Groep like-minded Woordfeesgangers het op 11 Oktober agter die Erfurthuis vir Ryan Pedro se Prins block party bymekaargekom. Dit was nie so pretentious soos jou tradisionele boekbekendstelling nie, maar gevul met poetry, musiek en kuier. Soos Pedro in een van sy gedigte skryf: “alles wat vir my gepromise is, renounce ek” – ’n versreël wat die unconventional gees van die aand en sy bundel vasvang. Die block party is gehou om sy tweede digbundel, Prins, te vier wat hierdie jaar op 25 April bekendgestel is.
Aan die begin van die aand het die crowd ’n bietjie lank gevat om uit te pluis waar om te staan en hoe om mekaar in die donker op te spoor. Die atmosfeer het egter vinnig verander toe biere uit Bibi Slippers se kar begin vloei, en Pedro ’n paar gedigte uit Prins onder fairy lights voorgelees het.
Pedro het almal verwelkom en gesê dat hy gekies het om ’n block party te hou omdat dit so toeganklik is. Verder wil hy ook die mure tussen die literary establishment en gewone mense afbreek. Hy vertel: “I just want to break barriers. That’s how I grew up. Jy hoor die musiek coming from the other side of town en dan wil jy gaan sien wat daar aangaan.” Die Prins block party het ook so gevoel: ’n plek waar jy kan kom kuier en digkuns geniet, sonder om “oor die kop gedonner” te word met literary theories.
Pieter Krog, ’n tweedejaar-BA (Menslike Hulpbronbestuur)-student, het gesê: “Hierdie is waar digkuns regtig gedraai het om vir die jeug te wees. Dit is lekker omdat ons almal kon saam wees, saam praat en saam kuier oor wat Afrikaans moontlik in die toekoms kan wees.” Mense het begin dans, en om die vuur gesit en gesels oor die verwysings en temas in Prins, terwyl Pedro rondgeloop het om self by die gesprekke aan te sluit.
Volgens Isabella Burgers, ’n tweedejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, het die kombinasie van Bibi Slippers se karligte, ’n koue Heineken in die hand en Pedro se poësie ’n nuwe kant van Afrikaans ontbloot. “Dit het my verwagtinge oorskry en dit was moerse lekker,” het sy gesê.
Pedro het ook verduidelik dat die kaartjies vir die block party teen R50 verkoop is, sodat meer mense dit kon beskostig: “Ek wil hê ’n ‘elitist art form’ soos poetry moet meer accessible gemaak word vir mense wat nie R250 of Uber-geld het om by Spier uit te kom nie.” Die studente het duidelik hierby aanklank gevind, want baie jongmense het opgedaag.
Die Woordfees kan aanhou leer by the one and only Prins, Ryan Pedro, oor hoe om ’n nuwe, jonger gehoor te lok – met bekostigbare kaartjies, bier en beats – maar dit is duidelik dat die hoogtepunt van die aand altyd die poësie sal wees. Pedro se werk en sy manier van dit deel, wys dat hy nie hier is om “die literary plantation se wiele [te] grease nie”, maar vir die mense wat sy poetry lees. Met die Prins block party het hy dit net weer bewys.
‘Hunger Games’: hoe lyk die toekoms vir skrywers en joernaliste?
Deur Nina Guy
’n Interessante gesprek tussen Ilse Salzwedel, Jolyn Phillips, Karin Schimke, Leonie Joubert en Frederik de Backer het op 13 Oktober by die Toyota Woordfees plaasgevind, waar die vraag: “Hoe maak ’n mens ’n bestaan uit skryfwerk?” bespreek is. In die gesprek is daar gepraat oor hoe skrywers hul skryfwerk gebruik om ’n bestaan te maak en wat hulle op die oomblik doen om ’n inkomste te verdien.
Ilse Salzwedel vertel eerlik en humoristies: “Ons is almal hier literêre hoere.” Sy meen dat skrywers en joernaliste regtig enigiets met woorde sal doen om kop bo water te hou – van klasgee tot vryskutjoernalistiek – die “Hunger Games” vir skrywers is ’n realiteit. Jolyn Phillips het ingespring en vertel dat sy steeds nie werk kry nie, al het sy ’n doktersgraad agter haar naam. Dit dui aan hoe sleg die ekonomiese toestand is en dat dit ‘n groot impak op talle skrywers het.
Opkomende kunsmatige intelligensie wat nou die posisie van skrywers bedreig, raak ’n probleem in verskeie industrieë en vervang elke dag honderde skrywers. In ’n tyd waar onsekerheid heers, en die grens tussen waarheid en leuens al hoe meer kwyn, is die integriteit van ’n joernalis belangriker as ooit. Toe Salzwedel gevra is wat sy vir jong, opkomende joernaliste sou sê, het haar oë opgehelder: “Jy moet doen wat jou hart vir jou sê om te doen. Daar sal altyd vir jou werk wees, mits jy integriteit het en mits jy bereid is om baie hard te werk.”
Salzwedel beklemtoon dat geen joernalis die minimum kan doen en steeds suksesvol kan wees nie. Sy noem ook dat Theuns Jordaan eens gesê het: “Die enigste ding wat bo begin is ’n gat.” Jy gaan jouself moet bewys en werklik die werk insit om die leer van sukses te klim.
Die paneel het saamgestem dat skrywers hulself voortdurend moet aanpas om in die literêre wêreld te oorleef. Salzwendel vertel hoe sy eens betaal was met ’n bordjie kerrie en ’n mismatched dankie-kaartjie. Dit is vandag die werklikheid vir skrywers: meer werk vir minder betaling.