Latest Post

‘Kyk My in My Oë’ USSA Boat Race 2025: Rowing rivalries battle on the Kowie ‘Kyk My In My Oë’ ‘The Life of a (burnt out) Showgirl’
Deur Anica Hattingh

Kyk My in My Oë, die film waarvan Christian Schoeman die draaiboek en regie behartig het, nooi kykers om stadiger te beweeg en werklik te kyk – te kyk na die dieper emosies wat wegkruip in die stilte. Die intieme atmosfeer van die Melkbos Ateljee het die film se tema van nabyheid en kwesbaarheid perfek aangevul. Dit het gevoel soos ’n gedeelde ervaring, eerder as ’n gewone bioskoopvertoning.

Christian Schoeman, die draaiboekskrywer en regiseur van Kyk My In My Oë. Hy vertolk ook die rol van Andrew in die film. Foto geneem deur Anica Hattingh.

Die film, ’n toetsverstoning, val in die drama-genre en dit was ’n aangrypende vertelling van hoe twee uiteenlopende wêrelde, ten spyte van hulle verskille, kan bots om ’n harmonieuse vriendskap te vorm. Die akteurs wat Andrew en Rian uitgebeeld het, het geslaag daarin om die gehoor in te trek en deel te maak van hul eie innerlike worsteling. Alhoewel daar baie agtergrond oor Andrew, die karakter wat Schoeman ook self vertolk het, gedeel is, het die gehoor gevoel dat sekere aspekte van sy motiewe, soos sy liefde vir treine, steeds onduidelik was. 

Ander karakters, soos Rian (gespeel deur Rikus Terblanche), het volgens een kyker “meer van ’n agtergrondverhaal nodig gehad.” Rian het deur die loop van die film baie gesukkel met uiterlike konflik, wat sy emosionele reis interessant gemaak het, maar soms voel dit moeilik om ten volle daarmee te vereenselwig.

Oor die algemeen het die film sterk akteurs en uitstekende spel vertoon. Die kombinasie van die kamerawerk en die klankbaan het die film daarin laat slaag om die gehoor deel te maak van die emosionele reistog van dié drama. Die film het op sekere plekke gesukkel om idees te voltooi, wat na sekere gapings in die storielyn gelei het. 

Aangesien dit ’n toetsvertoning was, het Schoeman vorms uitgedeel om terugvoering van die gehoor te kry. Schoeman het gedeel dat die film ver van klaar of perfek is, en dat die terugvoering gebruik gaan word om die film te verbeter. Kritiek in terme van die gebruik van musiek, dialoog en die algemene indruk is belangrik vir Schoeman. 

Altesaam is Kyk My in My Oë ’n innerlike verkenning van kwesbaarheid, intimiteit en eerlikheid. Met ’n paar verfynings kan dit breër gehore net so diep raak soos die gehoor in Melkbos.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *