Elodi Troskie
Twee van die bekende Spoegwolwe is deesdae op ’n ander verhoog aan die werskaf.
Du-Toit-broers Danie en Moskou, onderskeidelik hoofsanger en dromspeler van die Afrikaanse band, Spoegwolf, het onlangs hul fynproewersrestaurant in Stellenbosch oopgemaak en hulle het gróót planne.
Die Dorpstraat-geleë restaurant heet Drum, is versier met ’n dromstel wat uit die dak hang en word bedryf onder die leiding van een van die land se bekendste dromspelers.
Hoe het die idee vir ’n restaurant begin?
Die afgelope paar jaar het Moskou by ’n paar plekke gewerk, onder andere The Demo Kitchen in Stellenbosch.
Met Spoegwolf wat die vier-man-groep al hoe meer aan die gang begin hou het, was dit vir Moskou moeilik om voltyds as sjef te werk aangesien naweke dikwels die besigste tye vir hom was in terme van die restaurant sowel as musiekoptredes.
Danie vertel dat hy Moskou gevra het om eers enige werksaanbod van die hand te wys sodat hy deel van Spoegwolf kan bly.
“Ek het hom gevra om net in my te glo, om ’n leap of faith te vat,” sê hy.
Danie het ’n TV-program aan VIA (DStv-kanaal 147) voorgestel met die idee dat dit Moskou iets anders sou gee om te doen waar hy steeds sy talent as sjef teen toon sou kon stel.
In samewerking met Niel van Deventer het dié groep toe twee kort programme vir VIA produseer: “Moskou se kombuis” en “Spoegwolf soek nuwe bloed”.
Teen Oktober 2017 het hulle besluit om hul eie restaurant oop te maak waar Moskou sy eie baas kan wees en die vryheid sal kan hê om self te besluit wat hy wil doen en watter ure hy wil werk.
“Moskou doen die kos en ek doen die hustle. Ek kry die plek aan die gang,” sê Danie.
Danie en Moskou is trots op die kwaliteit kos wat uit Drum se kombuis tot voorskyn kom.
“Die gap wat ons gedink het ons kan vul is een wat hoër eerder as laer is,” verduidelik Danie.
“Om daardie tipe geld vir die kos te kan vra en om daardie tipe kos te kan maak, het ons agt cooks met grade hier.”
Hy verduidelik verder dat hulle besluit het om in hul kookspan te belê en die enigste plek van sy soort in Stellenbosch te wees.
“Dis nie soos ’n normale restaurant nie: hierdie is ’n experience. Elkeen van daardie agt cooks het iets om by elke dis te voeg.”
Volgens Sjef Moskou is hul idee om die beste kos te maak wat nog ooit bestaan het.
“Ons probeer nuwe goed wat nog voorheen gedoen is nie. Ons is hier om mense ’n nuwe experience te gee.”
Die spyskaart reflekteer sy kreatiwiteit en oorspronklikheid.
Slegs twee opsies word gebied vir voor- en nagereg en drie opsies vir die hoofgereg. Dit verander egter voortdurend en word aangepas soos Moskou besluit.
Hoewel die pryse relatief hoog is, meen Danie dat die porsies groot genoeg is om gedeel te word.
Verder bied hulle ook ’n billike wynproe teen R40 per persoon tot tyd en wyl hul dranklisensie finaliseer word. Alle wyn wat bedien word word deur dié broers se pa, Johan du Toit, gemaak.
“Alles in Drum word deur ’n Du Toit gemaak,” lag Danie.
Die werk aan Drum het verlede jaar in Oktober reeds begin en daar word elke dag steeds gewerk om die restaurant te verbeter. Die dekor is deur Anina van Eeden gedoen.
Die “boot in ’n boom”, soos Danie dit beskryf, is op die tweede vloer van die binnehof van die Black Horse Centre in Dorpstraat geleë.
Danie en Moskou het na ’n paar plekke gekyk toe hulle ’n perseel gesoek het, maar het op hierdie een besluit omdat dit soos ’n tipe oase weggesteek is en nie op die straat uitkyk nie.
“Fine dining restaurante is gewoonlik buite die dorp, so jy moet iets hê wat soos ’n destination voel. Ons het iets gesoek wat van die straat af is, amper so in ’n ander wêreld in gaan.”
Danie het groot vertroue in sy jonger broer se bekwaamheid.
“Ek dink hy is die beste drummer in die land en ek wéét hy is die beste sjef in die land. Ons glo in Moskou se talent.”
Uit die paar resensies wat hulle al sedert die opening ontvang het, is hulle reeds as die beste restaurant in die land beskryf.
Spoegwolf se skedule raak egter vinnig baie besig vir die toekoms. Hulle is sowat elke naweek vir ’n optrede bespreek en hulle is ook besig om aan hul volgende album, “Sneeu”, te werk, wat later vanjaar klaar behoort te wees.
Danie, wat met sy Phd in Geskiedenis besig is, saam met Niel van Deventer aan ’n fliek werk en ’n digbundel het wat wag om gepubliseer te word, beplan om mettertyd sy werk by Drum af te skaal.
Die broers beplan ook om die restaurant uit te brei, moontlik na die Kaap of selfs so ver as Australië, waar Drum se derderpartybelegger tans woon.
Wat bied Drum wat so ’n unieke ondervinding is?
“Wel, die feit dat ek en Danie albei hier is,” verduidelik Moskou. “Ons persoonlikhede is kontroversieel en crazy en saam is dit ’n hele nuwe ding.”
Hy meen dat gaste bedien word deur iemand wat ’n mengsel van David Kramer en Jimi Hendrix is.
Kortliks beskryf hy Drum as loud food: die “windgatste kos in Stellenboch”.
Drum is ’n vriendelike, kulturele mengelmoes van waar jy deur Danie en sy trekklavier by die deur verwelkom word, regdeur die weggesteekte boomhuisjuweel met sy meesterlike kos, familiewyn, kaggelvuur en huisgevoel.
Vir meer inligting of besprekings, besoek www.drumstellenbosch.com.
Foto’s: Elodi Troskie