Anke van der Merwe

Maties se krieketkaptein het nie alleen vir Namibië by die ICC World Cricket League Division Two-toernooi uitgedraf nie, maar hy het van sy beste syfers in sy internasionale loopbaan behaal.

Gerhard Erasmus, LLB-finalejaarstudent, verteenwoordig Namibië al vanaf 16-jarige ouderdom en het by die onlangse ICC-toernooi ʼn uitstekende 68 lopies van 108 balle behaal.
Hy het vier jaar gelede ook sy land in dié toernooi verteenwoordig.

Volgens Erasmus het die Namibiese span nie noodwendig die uitslae behaal wat hulle wou hê nie, maar hy is steeds positief oor die toekoms.

Namibië is nou op die 16-20 top lande ranglys na afloop van die toernooi. Dit beteken dat hulle moet kwalifiseer vir die T20 Wêreldbeker, en word nie direk in die toernooi geplaas soos die Proteas nie.

Erasmus sê dat die manne by Maties al sedert 4 Januarie in die nette oefen en dat hulle maar min vakansie gehad het.

Krieket Suid-Afrika se amateur kompetisie was voorbereiding vir die Namibiese span.

Afrigters by Maties raai die spelers aan om in hoër vlakke as klubkrieket te speel.

“Baie Maties speel naas die universiteit ook vir die Boland,” het Erasmus gesê, “so dit is nie eintlik asof die een voorkeur kry nie.
Wanneer my studies dit toelaat, speel ek vir Namibië en hulle is ’n vlak hoër [as Maties].”

Aangesien daar nie meer wedstryde gespeel word nie, word daar nou in die gimnasium voorberei.

“Ons seisoen is veronderstel om tot April aan te hou, maar ons het nie meer liga-krieket nie. Hulle het die liga gekanselleer, as gevolg van die waterkrisis.”
Balans is belangrik en Erasmus geniet steeds sy studentelewe. “Die classic time management-cliché.”

Die oud-Simonsberger het in die laaste twee toernooie vir Maties, volgens hom, nie te goed gespeel nie. Dus het die kapteinskap gewissel tussen hom en Kyle Simmonds.

“Partykeer het jy vorm en voel goed, en partykeer nie,” het Erasmus gesê, “partykeer kort jy ’n breuk.”

Erasmus het baie lof vir Maties High Performance Centre. “Ons het nie ’n normale studente lewe of roetine nie.” Daar word elke dag vroeg opgestaan en baie hard geoefen. “Maties het ’n baie goeie High Performance program.”

As finalejaar in die regte, het Erasmus klaar sy planne in terme van beide sy krieket- en regsloopbaan beraam. Hy voeg met ʼn breë glimlag by dat “in Nam kan jy gelukkig al twee doen.”