Hierdie jaar vier die Afrikaanse taal sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal. Maar soos die Toyota Stellenbosch Woordfees oor en oor bewys het, praat kuns nooit net een taal nie. Dis juis die veelstemmigheid en die kruisbestuiwing tussen Afrikaans, Engels, isiXhosa en soveel ander tale wat die fees so uniek maak. En asof dit nie genoeg rede is om te vier nie, word die Woordfees self 25 jaar oud. Van ’n deurnag-poësie-eksperiment in 2000 tot een van die grootste kunstefeeste op die vasteland, het die Woordfees gegroei tot ’n platform waar letterkunde, musiek, teater, visuele kuns en gesprek mekaar vind. Die geskiedenisboek van die Woordfees is gevul met jare se stories en kunste in alle vorme.

Die eerste Woordfees het in Maart 2000 plaasgevind as die “Nag van Passie”, ’n deurnagviering van Afrikaanse en Nederlandse poësie, aangebied deur Stellenbosch Universiteit. Dit het begin as ’n literêre ontmoeting, maar het vinnig ontwikkel in ’n veelkantige kunstefees. Candice Jantjies, bestuurder van openbare betrekkinge, beskryf Stellenbosch as ’n “literatuurdorp” waar die wortels van die fees diep lê: “Stellenbosch is bekend as ’n literatuurdorp en die [Woordfeeskultuur] van letterkunde en kunste is afkomstig van die oud-studente van [Universiteit Stellenbosch]. Dit het uiteindelik die grondslag gelê vir die ontstaan van ’n literêre fees.”
Hierdie jaar is die tema eenvoudig maar kragtig: Deel. Woordfees stuur ’n uitnodiging aan elkeen om saam die vreugde en vrolikheid van die kunste by die fees te deel. Daar sal byna 400 produksies tussen 11 en 19 Oktober plaasvind, van musiek en komedie tot letterkunde en kinderteater. Dié jaar is dit Antjie Krog en Siphokazi Jonas wat as festival poets die woorde dra. Hul projek, Alles wat ons deel, beloof om gehore te herinner dat taal ’n brug en nie ’n muur is nie.
Die Woorfees het hoër bywoningsyfers en meer kaartjieverkope aangeteken as in die jaar 2023, 27% meer kaartjies is verkoop in vergelyking met 2023. Daarom is die span vol vertroue oor hierdie jaar se program en die impak daarvan op die publiek. Met dit bygesê, is die gemiddelde feesganger se ouderdom besig om te daal. Alhoewel die teikenmark gemik is op meer volwasse gehore, is die liefde vir die kunste lewendig in die jonger generasie se harte.

Van ’n gedig wat in 2000 die eerste Woordfees geopen het, tot die uitmuntende kunstenaars wat vandag op Stellenbosch se verhoë staan, bly hierdie fees voortleef as een van die belangrikste kunstefeeste in Suid-Afrika. Soos Afrikaans in 2025 sy 100ste bladsy in sy geskiedenis as amptelike taal omblaai, blaai die Woordfees sy 25ste een om as belangrike kunsteviering, en albei herinner ons dat woorde mense verbind en hul stories lewendig hou.
Deur Nina Guy