Deur Ané Havenga
Die ondenkbare het gebeur: Maties het Ikeys in ’n wegwedstryd geklop, én Tukkies vir Shimlas, ook in ’n wegwedstryd. Dít was nodig vir Maties om op 25 April ’n tuiseindstryd te kan speel waar Maties vir Tukkies in Stellenbosch gaan aanpak.
Maties het op 18 April teen Ikeys by die Universiteit van Kaapstad se rugbyvelde gespeel. Vroeër in die kompetisie het Maties op 28 Maart op hierdie einste velde teen Ikeys 44 – 27 verloor en Ikeys was dus die gunstelinge in die semifinaal (hulle was ook hoër op die ranglys). Maties het egter nie dieselfde fout twee keer begaan nie en hierdie keer vir ’n wegholsege van 58 – 19 gesorg. Maties het regdeur die wedstryd gemaklik voor gebly te danke aan die skitterende spel van mans soos Sean Swart en Nevaldo Fleurs.
Swart, haker, het ’n driekuns behaal en het vir ’n derde keer met die toekenning vir die FNB Player that Rocks weggestap. Swart het vertel: “Ek is baie opgewonde. Ons praat baie by die huis daaroor – ek en my pa praat dat dit nie net een uitskieterwedstryd is nie en dat ’n mens toenemend moet presteer. Ek is baie trots op my spel sover en ek wil dit net elke wedstryd doen. Ek voel vanaand het die ouens vir die eerste keer regtig lekker saam gespeel en by mekaar ingepas. Ek is vreeslik beïndruk. Ek kan nie wag vir die eindstryd nie!”
Fleurs, wat as losskakel gespeel het, is besig om behoorlik naam te maak met sy bestendige skopskoen. Hy het tydens ongierige, winderige weer dit steeds reggekry om met agt van sy tien skoppe suksesvol te wees. Die Varsity-beker bevestig met die statistiek dat Maties nie net op die telbord gedomineer het nie, maar ook op vele ander plekke. Dít was duidelik uit Maties se 62% balbesit, asook hulle beter dissipline aangesien slegs een van hulle spelers ’n geelkaart ontvang het. Hierteenoor het twee van Ikeys se spelers geelkaarte ontvang en het hulle ook 18 strafskoppe afgestaan. Dit het alles bygedra tot Maties wat teen halftyd 31 – 7 voor was.
Maties het in hulle destydse openingswedstryd van 14 Februarie teen Tukkies met 19 – 9 gewen en gaan nou om hulle tiende finaal meeding. Hulle hoop saam met hulle ondersteuners dat dit vir hulle ’n rekord sesde titel in die sak sal bring.
Francois Pienaar, stigter van die Varsity-beker en oud-kaptein van die 1995-wêreldbekerwenners, het die semifinaal kom ondersteun en het gesê: “Hierdie is net fantasties. Ons het begin met ’n droom en mense het gesê hierdie idee gaan nie werk nie en ons het nie die nodige ondersteuning gekry toe ons hiermee begin het nie. Nou het ons 17 spanne wat speel. Tien in hierdie kompetisie en sewe in die ‘Shield’-afdeling en volgende jaar gaan dit agt spanne in elk wees.”
Hy het verder vertel: “Die gehalte rugby en die talent wat deur kom en die studente wat kans kry vir die eerste keer, en eintlik die enigste keer, om hulle universiteit te ondersteun, maak my vreeslik opgewonde. Ek is baie trots op hierdie! Dit is vir my baie belangrik ook dat die spelers moet studeer en ’n graad kry. Elke universiteit het hulle eie kultuur en die lekker ding is dat elke universiteit hulle eie kultuur gevestig het – dit wat hulle is.”
Dit is veral Pienaar se wyse woorde wat altyd sal bly: “Stellenbosch is fantasties. As die maan eers in die lug is en die studente sing – dis fantasties!”