DEUR SIBELLA SWANEPOEL
Stellenbosch se kroeë, klubs en restaurante bied studente verskeie geleenthede aan om ’n aand in die dorp deur te bring. Sodra die son sak, is daar ’n oorvloed van vermaak, musieksessies en live optredes ‒ en alles binne loopafstand van mekaar. Verken Stellenbosch se weeklikse vermaak met hierdie gids van die dorp se aangrypende naglewe.
Maandag
Lag jou blou Maandag weg met Dorp se komedie-aande wat die eerste Maandag van elke maand plaasvind. In samewerking met South African Comedy Shares bring hierdie punk bar vele opkomende en bekende komediante na hulle verhoog. Hierdie plaaslike komediante sal seker maak dat jy lag of ten minste giggel.
Dinsdag
Bohemia het tans elke Dinsdag vanaf 20:00 akoestiese sessies met Karel Bester en Jeandré Swanepoel. As jy van lang hare, kitaar-riffs en rock ’n roll hou, moet jy nie hierdie duo misloop nie. Hulle neem graag versoeke, en toegang tot hierdie vertonings is gratis.
As studente self die mic wil optel, kan hulle op Dinsdae hulle gunstelingliedjies Aandklas toe bring vir karaoke. Karaoke is ’n perfekte stresverligter ná ’n lang dag van klasdraf. Dit is nie net pret nie, maar ook goed vir jou gemoedstoestand.
Studente van 20 jaar en ouer kan die passievolle en energieke Hip Hop-kultuur elke Dinsdag by Fool’s Gold Social Bar se Hip Hop Tuesdays kom verken. Elke speellys is noukeurig deur Fool’s Gold se platejoggies saamgestel sodat studente die moderne asook klassieke stemme van Hip Hop kan verken.
Woensdag
De Stomme Jonge is ’n restaurant in die dag, maar verander in ’n snoesige en gesellige kroeg in die nag. Hulle het elke tweede Woensdag live musiek en stel die vele verborge talente in Stellenbosch se strate bekend. Hierdie warm atmosfeer is ideaal vir studente wat eerder ’n wyntjie op die stoep as die harde musiek en flitsende liggies verkies.
Jy kan ook elke tweede Woensdag by The Meeting Place ’n draai maak en die nuwe musiektalent verken. Hierdie restaurant se Bedroom Superstars-aande is ideaal vir passievolle musikante wat ’n naam vir hulleself wil maak. Stellenbosch se music scene is oorlaai met entoesiasme en kreatiwiteit, en daarom sal geen plaaslike groep of musikant teleurstel nie.
Donderdag
Op Donderdae nooi Aandklas alle vasvra-liefhebbers uit om deel te neem aan hulle weeklikse Quiz Night. Vat ’n studiebreek en toets liewer jou algemene kennis. Die vasvrakompetisie begin om 19:00 en daar is groot pryse om te wen.
Fool’s Gold Social Bar vat ons elke Donderdag terug in tyd met hulle Throwback Thursdays. Hierdie stylvolle klub se inwonende platejoggies word versigtig gekies om studente die beste kwaliteit musiek te waarborg. Die treffers is oud, maar goud.
Vrydag
Skop die naweek af met Stellenbosch se groot verskeidenheid platejoggies regoor die dorp. Elke Vrydag is daar talle platejoggies by verskeie klubs wat die beste musiek vir jou dansbegeertes bied. Hierdie klubs sluit Dorp, Centraal, Courtyard Café en vele ander in.
Saterdag
Maak ’n draai by Balboa Balcony Bar en ondersteun die plaaslike asook opkomende musiekgroepe wat elke Saterdag op Balboa se stoep optree. Met ’n ouderdomsperk van 21, is hierdie stylvolle kroeg meer gewild onder die nagraadse studente.
Sondag
Op Sondae is die spanning hoog en die biere koud vir Bohemia se beroemde Bingo. Vergeet dat môre Maandag is en ruil jou blou pen vir ’n kleurkryt. Bingo begin om 18:00 en daar is groot pryse om te wen.
Sunday Trance Nights by Die Mystic Boer is vir die studente wat die week op ’n hoë en vinnige noot wil begin. Die platejoggie maak elke week nuwe en unieke speellyste vir hierdie Sondagaandgeleentheid. Mystics maak sy deure vir enige iemand oop en is net ’n tree van kampus af.