Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR KARLA DE BOD

Met ’n enkele droom om ’n platform te skep waar kreatiewe entrepreneurs en ambagsmanne saam kan kom vir inspirasie en ondersteuning, is KAMERS/Makers nou een van Suid-Afrika se grootste kleinhandel verskynsels en ’n jaarlikse hoogtepunt vir die kreatiewe gemeenskap. 

KAMERS/Makers het tussen 26 en 31 Oktober by Blaauwklippen wynplaas plaasgevind en besoekers ’n week vol kleure, geure, en feesvieringe gebied. 

Volgens Ben-Carl Havemann, die uitvoerende hoof van Blaauwklippen, is dié wynplaas die ideale plek om KAMERS/Makers te huisves. “Ideaal geleë op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, is Blaauwklippen slegs [11] minute weg van sentrale Stellenbosch, [20] minute weg van Somerset-Wes en minder as ’n uur se ry vanaf Kaapstad,” vertel Havemann. “Ons plaas het groot beskadude buiteareas met sitplekke wat groot skare kan akkommodeer, asook ’n ruime parkeerruimte op die terrein.”

Blaauwklippen bied ’n beskadude buitearea waar die stalletjies se geure en klanke in die koelte waardeer kan word. Foto: Karla de Bod.

Oor die entrepreneurs wat as die Makers van KAMERS/Makers dien, sê Havemann: “Ons is elke jaar uit die veld uit geslaan deur die talent, kreatiwiteit en vernuf van die Makers by Suid-Afrika se beste (en grootste) ontwerpskou.” 

KAMERS/Makers dien as ’n geleentheid vir dié Makers om hulle kreatiwiteit uit te stal en om sodoende ’n gesellige atmosfeer te skep met besoekers wat die uitstallings waardeer. Met dit, sê Havemann: “Ons is ook mal oor die atmosfeer wat geskep word deur die hoeveelheid besoekers wat entoesiasties is oor ontwerp.”

Volgens hulle webblad, is KAMERS/Makers se waardes gebaseer op sagtheid en egtheid. KAMERS/Makers is ’n sagte ervaring deurdat dit ’n vryvloeiende viering van alles vars en uniek is, asook ’n viering van handgemaakte kuns en in persoon ontmoetings met diegene wat dit vervaardig het. Gevolglik, is KAMERS/Makers eg deurdat hulle mik om nuwe grense te verskuif deur Suid-Afrikaanse kreatiewe talent en innoverende produkte wat eksklusief, kreatief en gefokus op kleinhandel is, op te spoor terwyl hulle ’n koesterende omgewing en veilige spasie bied waarin klein besighede kan groei. 

’n Borskankerbewusmakingsinstallasie op KAMERS/Makers se gronde wat vir besoekers as ’n foto hoekie dien. Foto: Karla de Bod.

Met eksamen wat amper aan die rol is, was daar heelwat studente wat ook die mark bygewoon het vir ’n vinnige blaaskans tussendeur die studies. “Ek en my vriendinne was dadelik opgewonde toe ons die KAMERS/Makers plakkate op die lamppale sien,” sê Ania Lobaczewski, ’n derdejaar-BEd (Grondslagfase)-student. “Ons het so gou as moontlik ons studeer skedules beplan rondom ons KAMERS/Makers-trippie wat sou plaasvind.”

Marizaan Brink, ’n derdejaar-BA (Taal en Kultuur)-student, het KAMERS/Makers op hulle openingsdag bygewoon en vertel: “Ongeag die warm weer, was die dag baie lekker gewees. Die atmosfeer, al die stalletjies [en] die goeie geselskap het dit definitief die moeite werd gemaak.” 

As ’n student, sê Brink dat KAMERS/Makers vir studente ’n rede gee om agter die boeke uit te kom. “Blaauwklippen is ook nie baie ver van kampus af nie, so dit maak vir ’n lekker outing vir studente.” 

Marizaan Brink staan vol opgewondenheid by die ingang van KAMERS/Makers. Foto: Karla de Bod.

Met meer as 600 Makers in Kaapstad, Johannesburg, Bloemfontein, Stellenbosch en Pretoria, is die span agter KAMERS/Makers aanhoudend hard aan die werk om die mark se sukses en kreatiewe atmosfeer te handhaaf – dié harde werk word raakgesien. “My gunsteling deel van die mark was om al die moeite te sien wat in die dag gegaan het,” sê Brink. “Al die stalletjies was so mooi [asook] die versierings en die lekker musiek. Daar het definitief baie moeite in die dag gegaan en ek het dit beslis opgetel.”

KAMERS/Makers skep ’n gesindheid van trots en eenheid tussen gemeenskappe van kreatiewe ambagsmanne en entrepreneurs en bied sodoende ’n platform waar dié gemeenskappe inspirasie, verstandhouding en geloof met mekaar kan deel.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial