DEUR LIZE BEKKER
Vanjaar het kultuurliefhebbende Universiteit Stellenbosch (US)-studente in afwagting gewag om te hoor wat met hulle geliefkoosde Toyota US Woordfees gaan gebeur tydens hierdie wispelturige COVID-19-tye.
Die Woordfees is ’n jaarlikse kunstefees wat in Stellenbosch plaasvind. Dit is al jaar ná jaar ’n warrelwind van kultuuritems en ’n viering van kuns. Die Woordfees het, volgens hulle webwerf, in die jaar 2000 as ’n deurnagpartytjie ontstaan om die Afrikaanse woordkuns te vier. Hierdie jaar vind die Woordfees steeds plaas, maar dit is beslis ’n perd van ’n ander kleur. Kykers en ondersteuners kan hulle gunsteling sangers, digters, musikante en akteurs aanlyn op DStv-kanaal 150 vanaf 1 tot 7 Oktober aanskou. Om hierdie jaar se Woordfees aanlyn te beleef kan ’n mens kies om slegs vir een maand ’n DStv-kontrak uit te neem wat baie goedkoper uitwerk as om individuele kaartjies vir elke vertoning, soos ’n mens in vorige jare sou moes, te koop.
Zahn Marais, ’n eerstejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, sê: “Die Woordfees is elke jaar ’n unieke ervaring en dit gee kykers die geleentheid om die kunsbedryf uit ’n ander oogpunt te sien. DStv is dalk steeds te duur vir sommige kykers om die Woordfees te kyk en Showmax sou ’n beter opsie vir uitsending gewees het.”
COVID-19 het baie kunstenaars negatief beïnvloed en die Woordfees probeer hierdie omstandighede verbeter. ʺDie Woordfees se doel is om projekte aan te pak, vir kunstenaars platforms te skep om inkomste te genereer, geleenthede te skep om borge te behou en te help met die ordening van die uitvoerende kunste bedryf,ʺ sê Saartjie Botha, die Woordfees se feesdirekteur.
Die Stellenbosch Universiteitskoor tree self op tydens hierdie unieke Woordfees ná ’n moeilike jaar met vele uitdagings. Die koor het uitdagings soos 50 mense per oefening en maskerdra tydens sang in die gesig gestaar.
Cara Jordaan, ’n eerstejaar-BRek-student en lid van die koor, sê: “Ons het ’n opname gemaak op 18 September en gaan dalk 30 Oktober optree by ’n skool.”
Dit lyk dus asof omstandighede vir die koor besig is om te verbeter, en ondersteuning deur middel van die Woordfees sal hulle beslis goed doen. Die koor se optredes by die vorige Woordfeeste was baie gewild en die Endlersaal se kaartjies het in die verlede binne twee weke uitverkoop.
Die koor se optredes het regstreeks om 16h00 op 3 Oktober sowel as 17h30 op 7 Oktober op DStv-kanaal 150 plaasgevind. Om die koor, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Nataniël, Schalk Bezuidenhout en vele ander kunstenaars te sien optree, moet jy ’n DStv Premium- of Compact Plus-pakket aanskaf.
Die optredes kan ook gestream word vanaf ’n foon op DStv-kanaal 150. So indien die akademie jou ’n bietjie onderkry, jou ma jou te veel bel of jou kop baie seer is ná gisteraand se jol in De Lapa, is die aanlyn-Woordfees beslis ’n welverdiende blaaskans vir jou.
Vir meer inligting oor optredes en kunstenaars besoek die Woordfees-webtuiste by www.woordfees.co.za.