Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR KARLA DE BOD

Soos die lenteseisoen vir Stellenbosch met nuwe bloeisels groet, groet die studentedorp se bloemiste terug met romantiek, kreatiwiteit en ’n opgewondenheid om te skep. 

Die Matie het met ’n wip in die stap plaaslike bloemiste in Stellenbosch besoek en gaan gesels oor die lenteseisoen wat aangebreek het, en hoe dit hulle kreatiwiteit en doelwitte beïnvloed. 

Flowers in the Foyer

FLOWERS IN THE FOYER SE BLOEMIS Aviwe Mabikwe besig met ‘n kleurvolle blommerangskikking. Foto: Karla de Bod.

Flowers in the Foyer is gestig deur eienaar Hermien Coetzee wat in 1999 die winkel se deure oopgemaak het met die doel om harte te vul met ’n gevoel van vreugde en lig. Dié kleurvolle blommewinkel is geleë in Ryneveldstraat binne die bekende Skuinshuis, wat vir Taste-restaurant ook huisves.

Flowers in the Foyer is ’n alledaagse blommewinkel wat blomme, plante en potte verkoop, en dit het ’n addisionele geleentheidsafdeling waarmee die span betrokke is. Volgens Ingrid Ockhuis, die winkel se troue- en geleentheidskoördineerder, is die winkel meestal bekend vir hulle bloemiste. “Omdat dit nou lockdown en COVID-19 is, is die geleentheidsafdeling maar stil,” sê Ockhuis. “Maar ons winkel kry elke dag nog nuwe kliënte en die winkel groei elke dag meer en meer.”

‘n KLEURVOLLE BLOMMERANGSKIKKING wat Flowers in the Foyer se blommeafdeling ophelder. Foto: Karla de Bod.

Soos die lenteseisoen aanbreek, probeer die span van Flowers in the Foyer om blomme te verskaf wat eg aan die seisoen is. “In die lente het ons bloeisels, ranonkels, freesias en al daardie mooi lente blommetjies,” vertel Ockhuis. “Met elke seisoen soek ons die seisoenale blomme.”

Oor die sorg van kliënte se blommerangskikkings, verduidelik Ockhuis dat die span opgelei is om blomme te hanteer, soos wat hulle self as mens, hanteer wil word. “Jy wil nie in ’n pot gesquash word nie, of soos wat jy voel as jy ’n hoë polonektrui aan het, voel blomme ook só met te veel water,” sê Ockhuis. “So ons behandel maar die blomme asof hulle lewe, want hulle doen tog.”

Die kleurvolle binnemure en kreatiewe rangskikkings van Flowers in the Foyer is hulle manier om by te hou met kliënte en hulle tendense, en om sodoende ’n mark te skep wat kliënte gelukkig sal maak. 

OKASIE

KLIËNTE word gegroet deur unieke rangskikkings van proteas in OKASIE se voorportaal.
Foto: Karla de Bod.

In die hart van Dorpstraat word Stellenbossers gegroet deur OKASIE, ’n bloemistegroep wat in die lenteseisoen van 1999 deur Chris Willemse en Dané Erwee gestig is. Dié groep van blommeliefhebbers is bekend vir hulle invloed in Suid-Afrika se kreatiewe kringe en val sodoende onder die top 10 blommeverskaffers vir troues in die Wes-Kaap.

“Elke bos wat uitgaan, is anders,” sê Pieter Honeyborne, OKASIE se winkelbestuurder. “Elke bos is ’n stukkie geluk of liefde wat jy uitstuur, so jy maak iemand se dag of dit nou hartseer of feesvieringe is.”

OKASIE verwelkom die seisoensveranderinge met hulle verskeidenheid blommerangskikkings wat gekweek word op die groep se plaas net buite Stellenbosch. “Ons groei baie van ons eie blomme en ondersteun plaaslike groeiers,” sê Honeyborne. “So probeer ons altyd een stap voor wees of uniek wees of iets op ’n ander manier te gebruik.”

‘n BLOMMERANGSKIKKING deur OKASIE wat wag om afgelewer te word. Foto: Karla de Bod.

Alhoewel die bloemistegroep meestal bekend is vir hulle unieke rangskikkings en grootmaat verskaffing vir geleenthede, besoek studente ook graag die winkel om hulle eie rangskikkings te bestel. “Daar is hier en daar nog ’n outjie wat vir ’n meisie ’n blom of ’n posey of van die groter bosse koop, so daar is nog ’n paar verliefdes en verlores,” sê Honeyborne oor die winkel se studente-ondersteuning.

“Dit is lekker om iets uit te kan stuur en deel te vorm van iemand se feesvieringe of hartseer,” sê Honeyborne. “Dis amper soos om ’n kroegman te wees en almal se stories te hoor en in plaas van drankies stuur, stuur jy blomme uit.”

OKASIE se uniekheid is te danke aan hulle eindelose poging om altyd ’n stap voor te wees deur blomme en groenigheid op maniere te gebruik wat eie is aan die groep en hulle persoonlike kreatiwiteit.

Die Blomstalletjie

DIE BLOMSTALLETJIE se bekende sonneblomme vul Andringastraat met geluk en vreugde.
Foto: Karla de Bod.

Buiten vir die groot blommeverskaffers in Stellenbosch, kan studente ook Die Blomstalletjie vind. Dit is ’n klein blommestalletjie in Andringastraat wat al meer as 40 jaar plaaslike blommerangskikkings aan studente verskaf. 

Die storie agter Die Blomstalletjie is eg aan Stellenbosch. Volgens Gaye Barbour, die eienaar en bloemis van die stalletjie, is Die Blomstalletjie in die 1970’s gestig deur die vrou van ’n professor wat by die Universiteit Stellenbosch gewerk het.

“Ons kry vandag nog sonneblomme van dieselfde [sonneblomverskaffer] af en hy is al in sy neëntigs,” sê Barbour oor dieselfde plaaslike verskaffers as toe Die Blomstalletjie gestig was. “Ons is baie geseënd en bevoorreg met hierdie plekkie.”

Volgens Barbour is die interaksie met kliënte, sowel as met die blomme, haar gunstelingaspek van die stalletjie. Sy sê: “Ek glo dat blomme genees, of dit jou opbeur of kalmeer, en dit verseker dat dié wat die winkel besoek ’n goeie ervaring het.”

DIE BLOMSTALLETJIE SE EIENAAR Gaye Barbour, poseer trots met ‘n rangskikking van fynbos. Foto: Karla de Bod.

Barbour beskou haar kinderjare as die tydperk waartydens haar liefde vir blomme ontwikkel het. “As ’n kind is ek konstant omring deur blomme. Ek het dit gerusstellend gevind, en ek dink dit is een van die redes waarom ek ’n bloemis geword het,” vertel sy.

Aangesien Die Blomstalletjie in die hart van die studentedorp geleë is, is studente die stalletjie se grootste kliënte. “Ons is mal oor die studente,” sê Barbour. “Ons bemark met hulle in gedagte sodat hulle ’n bos blomme kan kry wat hulle begroting pas.”

Met Barbour se wens om toekomstige bloemiste van die stalletjie op te lei, het Die Blomstalletjie ’n deurlopende doel om entrepreneurskap te kweek en om werksgeleenthede te skep. Dit sal Die Blomstalletjie toelaat om meer gelukkigheid met die Stellenbosch-gemeenskap te deel, en sodoende by te dra tot die dorp se kreatiewe en jubelende atmosfeer.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial