Melissa spog met haar ring! Foto geneem vanaf Instagram @danie_reenwolf. Foto: Bella Du Toit.

Reënwolf Besluit op Vir Ewig

DEUR MIA VAN DER MERWE

Danie du Toit, hoofsanger van die musiekgroep Spoegwolf, en Melissa Bradshaw, wat tans haar PhD in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi, het op 20 Augustus via Instagram, op Du Toit se profiel @danie_reenwolf, hulle verlowing aangekondig. 

Die paartjie het op Stellenbosch ontmoet terwyl Du Toit nog sy graad in geskiedenis aan die US studeer het. Die Spoegwolf-sanger vertel dat hy vir ’n hele paar maande al met die ring in sy sak loop en baie tyd aan die beplanning afgestaan het. 

MELISSA op die piekniekkombers met die feesvierende sjampanje en Coco-Pops. Foto geneem vanaf Instagram @danie_reenwolf. Foto: Danie du Toit.

Du Toit het vir Bradshaw langs die Eersterivier op Stellenbosch tydens ’n piekniek gevra om met hom te trou. Die sanger gesels oor die sentimentaliteit van dié spesifieke piekniekplekkie en sê: “Ek en sy het op Kersdag besluit om van die hele wêreld te vergeet, en op Kersoggend het ons daar op daai selfde spot gesit en Coco Pops geëet en koffie gedrink en dit was vir ons baie special.” 

Toe die dag aangebreek het om haar te vra, het Du Toit die plekkie opgemaak met liggies en hy het nog ’n boks Coco Pops en sjampanje gekry om die gebeurtenis te vier. “Ek is baie dankbaar dat sy ja gesê het,” sê Du Toit. “Ek het nogal vir lank daaroor gestres.” 

Die Matie-span klink ’n glasie op dié gelukkige paartjie!

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial