GROET MEKAAR – Lede van die Irene-verwelkomingskomitee demonstreer Covid-19-maatreëls deur te wys hoe ’n mens iemand anders op 'n veiliger wyse kan groet . Foto: Verskaf deur Irene se Bemarkingskomitee.

Golden Week vir COVID-19 in Koshuise

DEUR ILA ALBERTS

Koshuise op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus is bekend daarvoor dat hulle gons met sosiale aktiwiteite. Dit is egter die afgelope paar weke nie meer die geval nie, sedert rekordgetalle COVID-19-gevalle aangemeld is.

Volgens Martin Viljoen, mediabestuurder van die US, is daar 94 positiewe COVID-19-gevalle in die week van 16 tot 22 Augustus by Kampusgesondheidsdienste aangemeld, met 111 studente in isolasie weens blootstelling aan geïnfekteerde persone.

Dit maak ’n noemenswaardige hoeveelheid van die totale aktiewe COVID-19-gevalle in die Stellenbosch-distrik uit. Luidens die Wes-Kaapse regering se COVID-19 Dashboard was daar op 26 Augustus meer as 900 aktiewe gevalle in die area.

’n Tweedejaarstudent in een van die drie susterskoshuise wat anoniem wil bly, sê dat HK-lede nie deur die loop van die jaar konsekwent gebly het met die toepassing van COVID-19-maatreëls, soos sosiale distansiëring en die deurlopende dra van maskers, nie. Gevolglik het baie HK-lede reeds self die virus opgedoen.

Sy sê sy moes self onlangs in isolasie gaan aangesien sy in kontak met ’n positiewe COVID-19-geval in die koshuis was. “Die persoon het geweet dat hulle in kontak was met iemand wat positief getoets het, maar hulle het steeds sonder ’n masker in die koshuis rondgeloop. Ons het ’n gesprek gehad; sy het later positief getoets en ek moes isoleer.”

Die huidige uitbraak kan volgens haar onder meer toegeskryf word aan golden week, oftewel die eerste week in die kwartaal waar talle studente poog om elke aand van die week uit te gaan en te gaan kuier. ’n Verdere kommer vir haar is die koshuise se eetsale, waar sosiale distansiëring dikwels nie gehandhaaf word nie.

“Die eetgerei word nie behoorlik gewas nie. Ons vind soms kos op die skinkborde en messegoed,” het sy verder gesê.

Toe sy ingelig is dat sy moes isoleer, het sy by ’n WhatsApp-groep aangesluit en vandaar vlugtig hulp ontvang toe sy besluit het om haar te laat toets vir die virus.

Volgens Kampusgesondheidsdienste is ’n persoon verplig om vir 10 dae te isoleer nadat hulle direkte kontak met ’n positiewe geval gehad het. Dit maak nie saak of hulle positief getoets het of nie.

’n Eerstejaar-BA(Geesteswetenskappe)-student in Eendrag wat onlangs die virus onder lede gehad het, is bekommerd dat die maatreëls nie meer so streng in die koshuise gevolg word soos aan die begin van die jaar nie. “Daar is saniteerders by elke hoofingang, [maar] dit lyk asof dit meer van ’n versiering is aangesien nie almal dit gebruik nie.”

Hy noem ook dat die dra van maskers binne die koshuis ook nie so streng geïmplementeer word nie, maar hy skryf dit aan individue se eie laksheid toe en nie HK-lede se pogings nie. 

Khumo Mgoboli, ’n eerstejaar-BSc(Menslike Lewenswetenskappe)-student wat in Irene woon, stem met die Eendragter saam dat HK-lede nie blameer moet word nie. “Tate [onderprim] doen ’n baie goeie werk. Hulle hou [die koshuisinwoners] konstant op hoogte oor hoeveel positiewe gevalle ons het en herinner ons deurentyd aan [COVID-19]-veiligheidsmaatreëls. Ook in ons seksies verseker ons seksie-HK dat ons ons health checks daagliks stuur. In ons koshuis spesifiek, werk hulle om die [COVID-19]-gevalle te keer.” 

Die universiteit moedig studente aan om te isoleer en Kampusgesondheidsdienste by 021 808 3494/6 te skakel indien hulle enige simptome ervaar of in kontak was met iemand wat positief getoets het.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial