Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR MARIANNE STEWART

Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf rou die dood van die bekende musiekfotograaf, Henry Engelbrecht (45). Engelbrecht is op 11 Mei dood aan COVID-19-verwante oorsake. 

Engelbrecht was bekend vir sy treffende foto’s van solomusikante en bands, soos onder andere aKING, Fokofpolisiekar, Bittereinder, Spoegwolf en Jack Parow. Hy het in 2012 begin om as ’n stokperdjie foto’s by feeste en konserte te neem. 

“Hy was ’n fantastiese, hardwerkende, passievolle en vriendelike mens. Henry was soft spoken, maar sy foto’s het baie gesê. Hy het altyd meer moeite gedoen as wat hy moes en wou eintlik nooit betaal word nie,” het Francois van Coke oor Engelbrecht gesê.

Hy het sy absolute passie vir musiek visueel in die vorm van foto’s vasgevang. “Hy het so baie van my beste herinneringe in foto’s vasgevang,” het Van Coke gesê.

Hy was ook vir ses jaar betrokke by Park Acoustics, ’n maandelikse buitelugmusiekfees by die Voortrekkermonument in Pretoria.

“Dit was ’n eer en voorreg dat hy vir meer as ses jaar eenmaal ’n maand Park Acoustics toe sou kom en sy kuns met ons, die kunstenaars en die wêreld deel,” sê Henk van der Schyf, Park Acoustics-organiseerder.

Van der Schyf beaam ook dat Engelbrecht ’n groot liefde vir Suid-Afrikaanse musiek gehad het en dat sy liefde daarvoor in sy aangrypende foto’s sigbaar is. “Hy het elke kunstenaar met dieselfde erns en respek hanteer, maak nie saak of jy ’n opkomende studenteband of Francois van Coke is nie,” sê Van der Schyf.

“Hy was een van my beste vriende in die wêreld en die band [Spoegwolf] se naaste vriend in die industrie,” sê Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf. Du Toit gaan voort en sê: “hy het nooit geld gevra nie en het dit gedoen as ’n rock ’n roll-guns”.

Vir ander was sy absolute nederige karakter duidelik sigbaar in sy werksetiek. “Hy het probeer om independent artists dieselfde kwaliteit foto’s en imagery te gee as vir die ouens wat groot record companies agter hulle het,” sê Du Toit.

Volgens Du Toit is Engelbrecht een van die grootste redes dat daar vandag ’n alternative scene in Afrikaanse musiek is.

Van Coke meen die musiekbedryf sal Engelbrect ongelooflik baie mis. “Ek mis hom al klaar baie en gaan hom ongelooflik mis, by en ná shows.” 

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial