DEUR DOMINIQUE FUCHS
Die eerste 33% van Maties keer tans terug na kampus terwyl die res van die studente voortgaan met aanlyn-leer. Studente wat geprioritiseer word om terug te keer, sluit in studente wat verpligte akademiese werk op kampus moet doen om in 2020 te gradueer, studente wat die kampus se laboratorium moet gebruik of kliniese werk moet doen, asook studente wat toegang tot gespesialiseerde sagteware of navorsingsmateriaal nodig het wat slegs op kampus beskikbaar is. Nagraadse studente wat by hierdie groep ingesluit is, sal na verwagting op 1 Julie 2020 hulle studies op kampus voortsit en voorgraadse studente op 27 Julie 2020.
Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ’n mobiele platform, HealthCheck, gebruik om studente se gesondheid te monitor. Hierdie selfondersoekplatform is deur die nasionale departement van gesondheid geskep om die verspreiding van Covid-19 vroegtydig op te spoor en te beheer. Studente sal daagliks ’n selfondersoek moet doen voordat hulle hul blyplek verlaat en sal hierdie inligting aan die US moet verskaf voordat hulle kampusfasiliteite mag binnegaan. Die resultate moet groen of lae risiko wees om op kampus te kan rondbeweeg.
Studente en personeel het vier opsies om hulself daagliks te toets. HealthCheck kan op WhatsApp (0600 11 00 00) gekontak word deur die nommer te stoor onder kontakte. Dit kan aanlyn besoek word by healthcheck.higherhealth.ac.za. Studente en personeel kan ook *134*832*2# skakel en die instruksies volg of ’n vraelys op ’n Word-dokument invul. Wanneer hierdie platform gebruik word, sal verskillende eenvoudige vrae beantwoord moet word, insluitend die gebruiker se ouderdom, simptome en ligging. Daarna sal ’n boodskap van die toep ontvang word wat sal sê wat die uitslae is. Die uitslae word as laag, matig of hoë risiko geklassifiseer. Indien die uitslae “lae risiko” is, sal studente op kampus toegelaat word. Indien die uitslae “’n mate van risiko” is, sal die toep aanwys watter stappe geneem moet word. kan binnegaan
Alle data wat HealthCheck van gebruikers bymekaarmaak, sal privaat gehou word en sal slegs vir die Nasionale Instituut vir Ordraagbare Siektes (NIOS) toeganklik wees. NIOS sal dit gebruik om moontlike infeksies of uitbrekings van Covid-19 te volg en op te spoor.
Volgens die nuutste e-pos van dr. Ronel Retief, registrateur van die US, wat aan die 33% van studente gestuur is wat na kampus mag terugkeer, moet studente wat in kampuskoshuise woon vir sewe dae self-isoleer. Dus sal hierdie studente nie vrylik kan rondbeweeg nie. Studente in kampuskoshuise sal nie hulle koshuis tussen 23:00 en 06:00 kan binnegaan nie en indien hulle nie in hul koshuis slaap nie, sal hulle vir sewe dae moet self-isoleer. Geen besoekers sal in kampuskoshuise toegelaat word nie. Die drankverbod is steeds geldig en dus word studente nie toegelaat om alkohol te stoor of te verbruik in hul kampuskoshuis nie.
Studente wat in privaat-akkomodasie woon, word ook toegelaat om terug te keer en sal vir 7 dae moet self-isoleer, soos aangedui deur die departement van gesondheid. Hierdie studente se toegang tot kampus sal beperk word, aangesien kampus slegs 33% van studente mag teruglaat.
Alle studente wat terugkeer kampus toe sal steeds sosiale afstand moet behou, maskers moet dra en gereeld hulle hande moet was.