Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR RENÉ ESTERHUYSE

 Stellenbosch is werklik ’n kunsliefhebber se paradys met ’n verskeidenheid galer­ye wat gereeld nuwe, opwindende uitstallings aanbied van beide ervare en nuwe kunstenaars.

Só ’n uitstalling is Knoop.Knot, wat op 24 Februarie om 18:00 by die Galery van Universiteit Stel­lenbosch (GUS) open. Knoop. Knot, onder die kuratorskap van die bekende Suid-Afrikaanse kun­stenaar Louis Jansen van Vuuren, bevat werke van meer as 50 kon­temporêre kunstenaars. Dit word in drie verskillende galerye in Stel­lenbosch ten toon gestel: GUS, die Slee Gallery en die Is Art Gallery. Kunstenaars sluit onder andere Anja Botes, Robyn Pretorius, Lin­da Weaver, Adriaan Diedericks, Joani Groenewald, Willemien de Villiers en Shany van den Berg in.

Volgens Jansen van Vuuren was die “magiese energie” van ’n tapisseries-uitstalling van die Franse tekstielkunstenaar Jean Lurçat, wat hy amper 50 jaar ge­lede gesien het, die inspirasie vir Knoop.Knot. “Daardie uitstalling het ’n diep impak op my gelaat. Ek sal so ver gaan as om dit as lewens­veranderend te beskryf,” sê hy. Die konsep van Knoop.Knot is geskep rondom die tekstielkunsvorm wat Jansen van Vuuren beskryf as “’n fundamentele deel van menslike lewens vanaf die begin van beska­wing”. Alhoewel vesel- en tek­stielkunstenaars gaan deelneem, is kunstenaars uitgenooi om van eni­ge medium gebruik te maak om ’n werk te skep wat visueel na hierdie eeue-oue tekstieltradisie verwys. Die uitstalling is doodeenvoudig ’n viering van die knoop. “Dit kan so eenvoudig soos ’n skildery, tek­ening, litografie, foto of die punt van ’n naald wees wat visueel na ’n geweefte beeld verwys. Dit kan so eenvoudig soos ’n keramiek- of ander driedimensionele knoop, of elementêre geweefde werk wees,” verduidelik Jansen Van Vuuren.

Knoop.Knot laat kunstenaars dus toe om hul verbeelding vrye teuels te gee, wat ’n diverse ver­sameling belowe. Anja Botes se by­dra bestaan byvoorbeeld uit sewe steenkoolsketse wat fokus op die belangrikheid van verskillende tekstiele in verskillende lewensfas­es. “Vanaf die dag wat jy gebore is tot jou laaste dag op aarde. Som­mige tekstiele is ’n noodsaaklik­heid, terwyl ander ’n meer sim­boliese of sentimentele rol speel. Die titel van elke werk verwys na ’n tekstielstof wat prominent is in daardie spesifieke lewensfase, met die doel om ’n dieper menslike toestand te beklemtoon,” sê Botes oor haar werk. Joani Groenewald het weer met silwerwerk- en bor­duurtegnieke werke geskep wat teesakkies simboliseer. “Die ma­teriale verwys almal subtiel na my Afrikaner-erfenis. Ek dink terug aan toe my familie middae saam met my ouma tee gedrink het op ons familieplaas in die Oos-Kaap,” verduidelik sy. Willemien de Villi­ers gebruik weer borduurwerk om stereotipiese idees van vroue uit te daag, terwyl Shany van den Berg staal as medium gekies het.

Knoop.Knot is ten bate van die Departement van Visuele Kunste by die Universiteit Stellenbosch. Van die kunswerke sal op ’n veil­ing verkoop word met die doel om die studentebeursfonds aan te vul. Daar sal ook lesings en werkswin­kels as deel van die projek aange­bied word.

Knoop.Knot is tot 21 Maart by die onderskeie galerye oop.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial