By Zandri van Greunen

Dr. Alfred Schaffer, ’n bekroonde digter en ’n senior dosent verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), is in Desember 2025 as die wenner van die Van Ewijk-stigting se prestasieprys aangewys.
Dié toekenning, ter waarde van R100 000, erken individue wat presteer het ten opsigte van die stigting se doelstellings, naamlik die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland.
Volgens Schaffer is sulke betrekkinge in ’n tyd van internasionale spanning baie belangrik. Dialoog vorm die grondslag van verstandhouding en wedersydse respek. “As die wêreld ’n dorp is, moet jy jou bure probeer leer ken,” het hy gesê.
Albei lande kan uit ’n gedeelde geskiedenis leer. Schaffer het gesê Nederland kan veral baie by Suid-Afrika leer, onder meer oor versoening, hoe om ekologiese uitdagings te benader, en wat diversiteit en multikulturaliteit beteken. Hy het gesê daar bestaan steeds groot onkunde in Nederland oor dié land se koloniale rol in Suid-Afrika.
Hoewel hy al jare lank in Suid-Afrika woon en werk, het Schaffer gesê dat om tuis te wees nie vir hom aan een plek gebonde is nie. Hy het verduidelik dat taal, aksent, humor en verskillende geskiedenisse soms ’n afstand tussen hom en Suid-Afrikaners skep, maar dat hy ook nie volkome tuis in Nederland voel nie. “Miskien kan ’n mens in meer as een land leef en steeds ’n verskil maak,” het hy gesê.
Die prys erken ook Schaffer se werk waardeur hy met die breër Nederlandssprekende wêreld, soos die Karibiese Eilande en Suriname, in gesprek tree.
“Daar is ’n verskil tussen omiets vír die gemeenskap doen en om dit sáám met die gemeenskap doen. Dit is dus belangrik om praktiese geleenthede te reël waar ’n klomp stemme gehoor kan word,” het hy gesê.
Schaffer het bygevoeg letterkunde speel ’n belangrike rol om mense nader aan mekaar te bring. Volgens hom leer lesers deur middel van literêre tekste hoe om hulself in ander mense se skoene te plaas, en op sy beurt bevorder dít empatie.