Deur Nina Guy
Tydens die Toyota Woordfees het Mia Spies van Netwerk24 ’n inspirerende gesprek met Bertus Basson gehad oor sy pad na sukses. Die bekende sjef en restauranteur het vertel van sy vroeë dae in Engeland en Londen, waar hy by verskeie restaurante gewerk het en die waarde van harde werk geleer ken het.
Basson het met eerlikheid gepraat oor sy moeilike beginjare: “Ek is bly ek het gesukkel.” Hy glo dat jong mans móét sukkel, net soos die vorige generasie wat oorlog toe is. Dis deel van groei en verbeter deursettingsvermoë. Hierdie lewensfilosofie het hom gevorm. Hy beskryf homself as hardkoppig en vasbeslote om sukses te behaal, ten spyte van struikelblokke.
Hoewel hy in die buiteland waardevolle ervaring opgedoen het, het Basson besef dat sy hart in Suid-Afrika lê. “Ek hoort net hier,” sê hy met trots oor sy Suid-Afrikaanse identiteit. Hy verduidelik dat ware vervulling daarin lê om balans te vind tussen werk, lewe en passie: “Om harmonie te vind, moet jy aanpas.”
Al het hy self nooit ’n graad voltooi nie, glo Basson dat tersiêre opleiding steeds belangrik is. Hy beklemtoon dat sukses nie uit geluk gebou kan word nie, maar net uit volgehoue inspanning: “Harde werk is ’n leefstyl.”Vandag is Basson bekend as een van Suid-Afrika se mees invloedryke sjefs. Sy TV-reeks In die Sop help restaurante om te groei en te oorleef. Vir studente in Stellenbosch is Basson se naam beslis bekend. Die dorp huisves verskeie van sy bekende restaurante, onder meer Spek & Bone en De Vrije Burger, wat deel geword het van die plaaslike eetkultuur. Sy invloed strek wyd, maar sy spore is duidelik sigbaar in die strate van Stellenbosch.