Granaatsap, een van Premièrefees 2025 se toneelstukke, het gehoorlede laat lag sowel as kriewel van ongemak. Lisa Kukard is die skrywer en regisseur van hierdie surrealistiese tragi-komedie. Die storie volg ’n ouma, haar kleinkind (Madelein), die dominee, sy seun (Johnny) en ’n kraai. Op die sewejaarherdenking van Albertus se dood, skyn die son rooi deur die gat in die dak en eienaardige kaskenades en profesieë word ontbloot.

Jani Steyn, ’n eerstejaar-LLB-student, sê: “Ek was baie invested in die storielyn. Dit het regtig spanning opgebou en dit was baie intricate.”
Die akteurs was almal uitstekend, maar Zara West, wat die rol van Ouma vertolk het, het bo almal anders uitgestaan.
Jean Retief, wat die rol van Johnny vertolk het, sê: “Ek dink [West] is eintlik die as waarom die res van die toneelstuk draai. Asook haar invloed op elke liewe een van die karakters. Om haar te kan beleef en te sien hoe sy act is incredible.”
In haar reusegranaatkostuum bring Ouma se karakter temas oor die misbruik en manipulering van geloof ter sprake. Madelein en Johnny, die tieners in die verhaal, simboliseer hoe kinders vasgevang kan voel in die boks waarin hul ouers hulle wil plaas.
Kraai met die reusesigaret neem die rol as die verteller aan.

Kristen Fichardt, wat die rol van Kraai vertolk het, sê: “Kraai is Madelein ná die dood. Dit is wie sy eintlik wil wees, maar sy is vasgekeer in hierdie huis met haar ouma. Dis eintlik ’n sirkel. So wanneer [Kraai] al hierdie gebeure sien, is dit goed wat sy alreeds gesien het, en sy weet wat gaan gebeur.”
Hierdie aanvanklik lukrake karakter word vinnig meer relevant wanneer die lyn tussen Kraai en Madelein as ’n enkele karakter in die storie vervaag.
Behalwe vir die intrige en akteurs het die vertoning met ’n pragtige verhoogruimte gespog. Lakens en klere wat die mure van Ouma en Madelein se huis vorm, het die ruimte ’n intieme gevoel gegee. Die gebruik van beligting om die atmosfeer te manipuleer, het baie goed tot die spanning in die verhaal bygedra.
Greta Maschke, ’n eerstejaar-BA (Drama and Teaterstudies)-student sê: “Ek het baie van die dekor gehou. Ek het ook van die realism van die era gehou, soos die musiek. Dit was nogal cool.”
Ongelukkig het Granaatsap nie die top drie van Premièrefees behaal nie, maar die surrealistiese toneelstuk was ’n goeie tentoonstelling van hoe ryk, lewendig en boeiend Afrikaanse drama nog steeds is.
Deur Jana Burger