Rock en Roll het weer lewe gekry in Stellenbosch toe GSTRiNG en Millennium in die laataand-ure by die Bohemia Bar optree op Donderdag, 8 Mei 2025. Dit was ’n onvergeetlike aand vir beide bands, met die gehoor wat smeek vir meer en bederf word met liedjies wat GSTRiNG nog nooit voorheen opgetree het nie.

Vir Millennium was dit spesiaal om weer terug te keer na hul tuisdorp, nadat hulle vir lank regoor die land opgetree het. Hendré Baard, die voorsanger en hoofkitaarspeler, het veral die meer intieme optrede geniet. “Dis lekker om by ’n gig te speel waar jy nie hoef te worry oor die struktuur of die setlist nie en net onsself kan geniet; dis lekker wanneer ons net kan gooi,” het hy laggend verduidelik.
Mornè Baard, Hendré se broer en Millennium se baskitaarspeler, vertel hoe hy dit meer geniet om nader aan die gehoor te wees as hulle optree. Millennium was gestig deur die drie Baard-broers tydens lockdown in 2020, en hulle het sonder enige formele opleiding saam begin musiek maak. Hendré vertel hoe hulle mekaar se ritmes ken en weet watter musiek vir elke broer werk. Die broers is grootgemaak met Def Leppard, Pink Floyd en 70’s Rock en Roll. Soos Hendré verduidelik: “Ons het begin saam speel, en van toe af net nooit opgehou nie.”
Millennium is besig om hul nuwe enkelsnit op te neem en volgens Mornè, die liriekskrywer, is dit “hard rock, ACDC in Afrikaans”. Vir Ruan van Niekerk, die band se dromspeler, was dit ’n voorreg om die aand saam met die nuwe generasie van kunstenaars soos GSTRiNG te speel.
GSTRiNG het die gehoor in verwondering gehad terwyl hulle Ella, hul nuwe enkelsnit, vir die eerste keer in die publiek opgetree het. “Ons is baie lief vir Ella, en ons hoop julle sal ook wees!” het Neelsie van Dyk, voorsanger en kitaarspeler van die band, geroep. GSTRiNG is besig om groot golwe in die Afrikaanse-musiekindustrie te maak en Wilhelm Warmenhoven, mede-voorsanger en kitaarspeler, sien baie uit na die liedjies wat hulle besig is om te skryf en op te neem.

Die optrede by Bohemia het bewys dat Afrikaanse rock steeds lewendig en innoverend is. Daar is altyd iets nuuts op die horison en Millennium en GSTRiNG het nog baie wat hulle aan die Afrikaanse gehoor wil bewys.
Deur Jana Gous