GSTRiNG se onbeskaamde benadering tot selfontdekking en die realiteit van grootword word vasgevang in hulle debuutalbum, Sonvlug. Die naam kom al die pad van graad nege af saam en was oorspronklik ’n filosofiese besinning – “Wat as die aarde nie draai nie, maar dis eintlik net die son wat weghardloop van ons af, want mense is sleg?” Hierdie vreemde vraag eggo deurgaans die album en raak in die liedjie “Sonlig” selfs mens – waar die onderliggende konsep verpersoonlik word as iemand waarna jy smag, maar wat nie altyd goed is vir jou nie.
Die album is onmiskenbaar uit ’n jong mens se perspektief geskryf en raak volgens Wilhelm aan al jou tipiese tienerprobleme – “Jy begin te veel wyn drink, jy sukkel op skool en vergelyk dit met liefde. Almal is daardeur, so almal verstaan op ’n intieme vlak waarvan ons praat.” Soms blyk die wyn drink wel nuttig te wees – hulle het een aand ’n gediggie op die agterkant van ’n bottel raakgelees, ’n paar dingetjies verander, en dit toe gebruik om die treffer “Olivia” te skryf.
GSTRiNG se musiek kan as rou en eerlik beskryf word, iets waaroor beide hoofsangers baie sterk voel. “Ek weet nie wat vrye wil is nie, maar ek glo ons het dit,” meen Neelsie. “Musiek maak jou vry, want jy kan dink en sê wat jy wil.” Beide besef ook dat deur nie bang te wees om openlik te sing oor dinge wat saam met grootword kom nie, kan hulle luisteraars help deur hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie. Die erns van hierdie besef is te siene in lirieke soos “Gee my nog ’n kans, ek kan rigting kry,” waar hulle werklik smeek saam met elke hartgebroke aanhanger.

Die duo besin in menigte versies die kompleksiteit van eksistentiële vrae rondom geloof, en noem ook hoe twyfel ’n natuurlike deel daarvan is: “Die definisie van geloof is nie iets waaroor jy 100% seker kan wees nie, maar iets waarin jy kan kies om te glo.” Hierdie introspektiewe benadering oor hulle eie reis gee hul musiek ’n diepte wat nie net met hulle mede-gelowiges nie, maar enigeen wat oor die lewe wonder, resoneer.
Afrikaans speel ’n sentrale rol in GSTRiNG se identiteit. “Dis makliker om in [Afrikaans] te skryf,” sê Neelsie, maar dit gaan oor meer as net gemak. “Ons is baie trots op ons taal, en ons wil graag deel wees van die nuwe Afrikaanse kultuurbeweging.” Hulle het albei deelgeneem aan redenaars en debat op skool, so hulle taalvaardighede is, soos mens vinnig aflei, vêr bo dié van ’n gewone ou. “Ons doen regtig moeite daarmee om mooi woorde te gaan soek wat help om ons stories te vertel.”
Hierdie agtergrondkennis stel hulle in staat om oor meer as net brandewyn te skryf. “Of ons kan skryf oor brandewyn, maar jy gaan nie weet ons doen nie,” lag hulle, soos wat luisteraars wat die betekenisse agter versies probeer uitpluis, al té goed weet. “Alles is ’n metafoor, al is dit ook nie. Ek swot (en verpes) BRek, maar tog gaan die liedjie “Rekeningkunde” oor soveel meer as net die vak self,” vertel Wilhelm.
G-String se liedjies kom nie op bestelling nie. “As ’n liedjie kom, dan kom hy. Byna altyd binne twee ure geskryf, maar nooit vinnig na mekaar nie,” sê Neelsie. Hulle is reeds halfpad met hul volgende album, getiteld Pretoria, waarin hulle meer sal reflekteer oor die fase waarin hulle nou is. Voor die helfte van 2025 verby is beplan hulle twee nuwe singles, en voor die einde van die jaar ’n volle album. Maar vir GSTRiNG is kunstenaarskap egter nie net musiek maak nie – dit is ’n manier om in die wêreld te bestaan. “Ek hou van die mooi dinge in die lewe,” sê Wilhelm. “Die mense wat dit net doen vir die werk is die mense wat die bedryf aftrek,” voeg Neelsie by. Om in ’n gemeenskap te wees wat omgee vir taal en musiek is vir hulle ’n voorreg.
“Kuns het ons wêreld verander en bands soos Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Milky Chance en RKS het ons geïnspireer om dieselfde vir ander mense te doen,” sê Wilhelm en Neelsie. Om live op te tree is hul grootste vreugde. “Dink ons is verslaaf aan die adrenalien. Ja, ons probeer ’n show gooi, maar dis so lekker dat dit eintlik natuurlik kom.” Hulle gee ook nie om, om min betaal te word nie en is bereid om op te tree waar okal hulle genooi word om so te doen. Dit is duidelik dat GSTRiNG op die regte pad is.
Sonvlug, verpak in ’n klank wat wissel tussen indie-rock (Neelsie se voorkeur) en folk met ’n tikkie “white girl pop” (Wilhelm se bydrae, geïnspireer deur sy tye in Nubar) dien amper as ’n tydkapsule vir ons almal se jeug. Vir enigeen wat self wonder, “Wanneer Het Ek Mal Geword? (WHEMG)”, bring hierdie band ’n antwoord in die vorm van ’n liedjie met dieselfde naam as die titel, terwyl hulle jou graag herinner dat jy nie alles hoef te weet om die lewe te kan geniet nie.
Kaartjies is nou beskikbaar vir wat, sonder twyfel, ’n onvergeetlike aand by The Daisy Jones Bar op 28 Maart 2025 gaan wees.
Deur Roosje Grobbelaar