Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer
Foto: Aurelia Mouton

Soos elke jaar in April verkleur die akkerbome in Dorpstraat se blare na warm oranje en rooi skakerings, en Maties stap haastig klas toe met klere wat ’n laag of twee meer geword het om teen die oggendkoue te beskerm. Van hierdie jaar af word Dorpstraat egter ook bederf met die sagte geluide van klaviernote om die herfsatmosfeer te komplimenteer. 

Die Heuer Klavier-winkel is sentraal tot die Stellenbosch-musiekbedryf vanaf 1955 en spog vanjaar met ’n nuwe ligging in die bedrywige Dorpstraat. Met die instapslag vang die elegante vorm van vleuelklaviere jou oog en talle kitare hang trots teen die muur. Sonlig stroom in deur al die vensters en die uitleg van die winkel is modern en vars. Die opening op 30 Maart was ’n aand vol musiek, lag, en vieringe vir die Heuer-familie se nuwe era. 

“Vanaf die eerste dag wat ons verlede jaar hierdie winkel oorkant die straat bekyk het, kon ek die positiewe energie van die ware Stellenbosch aanvoel,” verduidelik Hans Heuer. Hy en sy sy seun, Rüderick Heuer, deel ook toekomsplanne en -drome vir die winkel wat onder andere ’n koffiewinkel insluit. 

Foto: Aurelia Mouton

Die Heuer familie het ’n ryk geskiedenis wat terug gaan na 1928 waar Wolgang Heuer Snr in sy oom se klavierwinkel begin werk het in Duitsland. Die familie het tydens die Tweede Wêreldoorlog gevlug na Suid-Afrika.

“My pa het toe deur ’n vriend ’n werk in Kaapstad gekry en saam met ons ma, my broer Wolfgang, en my suster, Traudel, in 1953 met die Bloemfontein Castle-skip in Kaapstad aangekom. Ná twee jaar het hulle Stellenbosch toe verhuis en die res is geskiedenis.”

Heuer spog met ‘n self-spelende Yamaha vleuelklavier. Foto: Aurelia Mouton

Hierdie nederige familiebesigheid het sedertdien in die hande van die Heuers gebly en was vir bykans 30 jaar in hul eie musikhaus in Birdstraat, waarvan hul nou moes afskeid neem. Heuer bedank sy broer, Wolfgang Heuer Jnr, vir jare se harde werk om die familie se drome te verwesenlik. Vandag, onder bewind van die vyfde geslag Heuers, is dit die grootste klavierherstellingsfabriek in Afrika en bied ook dienste soos klavierverhurings, klavierlesse en -stemmings.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial