Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer
Adv. Heunis daag onder protes op vir US-Raadsvergadering op 17 April. Foto: Emma Jane Metcalf

Die uitvoerende kommitee (UK) van die Universiteit Stellenbosch (US)-Konvokasie bevind hulself in warm water na aantygings van magsvergrype vanaf lede van die wyer Konvokasie rakende die bevel vir summiere bedanking van US-rektor, prof. Wim de Villiers, en registrateur, dr. Ronel Retief.

Volgens ’n brief, saamgestel deur prof. Thuli Madonsela en dr. Louise van Rhyn en uitgereik op 6 April, gerig aan adv. Jan Heunis, president van die Konvokasie-UK, merk lede van die Konvokasie op dat hulle “ongemaklik is met die besluite wat geneem word sonder om die lede van die Konvokasie in ag te neem”. 

“As ’n lid van die Konvokasie het ek vir jare toegekyk hoe Adv. Heunis (as voorsitter) goed doen in die naam van die Konvokasie waarmee ek nie gemaklik was nie. Ek is skaam om te sê ek het toegekyk en niks daaraan gedoen nie,” vertel Van Rhyn, US-alumnus en Konvokasie-lid.

Adv. Heunis. Foto: Emma Jane Metcalf

Sy sê verder: “Verlede jaar was ek deel van die groep mense wat dr. Rudi Buys genomineer het as [Vise-President] van die Konvokasie. Ek het gehoop dit sal lei tot verandering.” ’n WhatsApp-groep, wat tans sowat 400 lede het, was later geskep deur Van Rhyn op Saterdag, 15 April, met die doel om nog Konvokasie-lede se ondersteuning betrek. 

“Tydens my veldtog om verkies te word as Vise-President ’n paar maande terug het ek my daarvoor beywer dat die dagbestuur as brugbouers sal werk wat heeltyd gesprekke met en tussen lede skep, en met die universiteit en ander belangegroepe – dít als ten bate van die universiteit. Voortdurende konsultasie is die basis van die werk van ’n konvokasie, en behoort die hoofkenmerk van die dagbestuur van ’n gerekende konvokasie te wees. As lid van die dagbestuur wil ek mense byeen bring om sinvolle oplossings vir die moelike uitdagings voor die universiteitsgemeenskap te vind, soos nou in die geval van die diskresionere plasingsbeleid van die rektor. Ek is daarom self baie teleurgesteld oor die voortgesette vyandigheid tussen die dagbestuur en die universiteit,” sê Buys. 

Frederik van Dyk, Konvokasie-UK-lid, verduidelik: “Daar is baie uitdagings wat die universiteit raak, en die welsyn van die universiteit deur ’n wedersyds-voordelige verhouding tussen die US en die Konvokasie kan net in stand gehou word indien die UK van die Konvokasie die optrede van die bestuur onder oog neem, kritiseer wanneer nodig, en aanprys wanneer dit verdien word.”

“’n Wedersyds-voordelige verhouding, en gevolglik die US se welsyn, word nie bevorder deur ernstige nepotisme-voorvalle nie – veral nie deur die Rektor self nie,” meen Van Dyk. 

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het onlangs bevind dat die US die Afrikaanssprekende studente se menseregte geskend het tydens die 2023-verwelkomingstydperk. Daar is vir Afrikaanssprekende studente tydens dié verwelkomingstydperk gevra om eerder Engels te benut sodat almal kan verstaan en ingesluit word. Die klagte was aan die SAMRK voorgelê deur Afrikaanse studentebelangegroep, StudentePlein en die DA. Daar was in die verlede soortgelyke klagtes ingedien deur die Vryheidsfront Plus en die DA rakende die 2021-verwelkomingstydperk.

Van Dyk noem dat die SAMRK-verslag ook ’n bydraende faktor is in die UK se versoek dat De Villiers bedank. 

“Dit bevat ernstige bestuursmistastings, maar ’n mens kan nog redeneer dat dit ’n bona fide-beleidsdebat was, en dat beter uitvoering kan geskied deur regstellende stappe te neem. Maar nepotisme, teen die agtergrond van die korrupsiekrisis in Suid-Afrika, moet eenvoudig nie geduld word nie,” sê Van Dyk. 

Dr. Leon Schreiber, DA-kiesafdelingshoof vir Stellenbosch Munisipaliteit en lid van die US Raad, het op Twitter die MRK se bevindinge goedgekeur en ook duidelik gemaak dat hy glo die ondersoek rakende aantygings van nepotisme deur die rektor moet lei na ’n mosie van wantroue. 

“’n Paar weke gelede het ek begin oplet hoe [Dr.] Leon Schreiber se tweets duidelik wys dat hy SU as ’n politieke speelbal gebruik en het toe besef ons (die lede van die Konvokasie) moet betrokke raak. Ek en Prof. Thuli Madonsela het toe ’n brief na [Dr.] Leon Schreiber gestuur en gevra vir ’n gesprek. Hy het nooit na ons toe teruggekom nie,” vertel Van Rhyn, rakende nog ’n brief vanaf die wyer Konvokasie, gerig aan Schreiber. 

Konvokasie-lede protesteer Konvokasie-UK. Foto: Emma Jane Metcalf

Menige lede van die wyer Konvokasie het hulle ongelukkigheid uitgespreek teenoor die UK op Maandag, 17 April, toe hulle vergader het buite Administrasie B, ’n uur voor die beplande US-Raadsvergadering, om die mosie van wantroue teenoor De Villiers te bespreek. Die vorige dag het die Konvokasie ook ’n brief aan dr. Nicky Newton-King, as die voorsitter van die US-Raad, gerig waarin hulle die Konvokasie-UK se besluitneming in dié kwessie teenstaan. 

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: Sosiale Impak en Transformasie en lid van die Konvokasie, het sy bekommernis uitgespreek oor die publieke verklaring deur die Konvokasie-UK: “Die kern van die saak is dat daar ’n klag aanhangig gemaak is teen die rektor, en dat die Konvokasie publiek gegaan het met ’n verklaring deur die UK dat hulle vra dat die rektor en die registrateur moet bedank. Dit is die krisis: dat prosesse nie behoorlik gevolg word nie, dat daar namens die Konvokasie gepraat word sonder konsultasie.”

Van Rooi se mening weerklink dié van die hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, wat ook teenwoordig by die optog buite Administrasie B was. 

“Dit gaan oor demokrasie. Die stem van die mense is belangrik en skynbaar weier sommige lede [van die Konvokasie] om dit te oorweeg. Hulle dink dat hulle die reg het,en, vir my, selfs die vermetelheid om voor te gee dat ’n besluit soos daardie gewig sal dra,” vertel Groenewald.

Groenewald is van mening dat “sommige van die lede wat hierdie aanklag lei om ontslae te raak van die rektor en die registrateur ander agendas [het]”.

Die konsensus is egter dat demokrasie aan die orde van die dag behoort te wees.

“Dit is, oplaas, ’n goeie teken dat mense voel hulle het die platform om hul menings te lig oor hoe om prosedures en konsitusionele mandate te handhaaf. Verskillende sienings laat meer betrokkenheid toe oor waar om te verbeter en kan verder aspekte van kwessies wat misgekyk word identifiseer,” sê Studente Raad-voorsitter en lid van Konvokasie, Masilo Silokazi. Van Rooi noem ook dat hy “bly [is] personeel staan op”.

“Die eerste groot taak vir die pad vorentoe is vir die dagbestuur om met verskillende groepe van Konvokasie-lede in gesprek te tree oor bekommernisse, en saam ’n oplossing te soek, soos ek reeds breedweg mee besig is,” sê Buys.

Hy sê voorts: “[D]ie praktiese is dat as nuwe konsultasie-inisiatiewe nie slaag nie, dan kan Konvokasie-lede vra vir ’n buitengewone vergadering van die Konvokasie, waar mosies en voorstelle oor gestem kan word – die dagbestuur het dan die taak om daardie mosies wat aanvaar word, uit te voer.”

“[U]iteindelik is daar geen antwoord anders as dat kollegas met mekaar moet praat nie. Konsultasie is die leemte, en konsultasie is die oplossing,” sê Buys. 

Adv. Heunis het teen die tyd van publikasie nie reageer op navrae vanaf Die Matie vir kommentaar nie.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial