Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

deur Jean-Miri Olivier

vertaal deur Rentia Meyer

Maties Netbal het teruggekeer ná hulle eerste oorwinning in 27 jaar by die University Sport South Africa (USSA)-netbaltoernooi en het sedertdien nie teleurgestel nie. Die standaarde is hooggestel en hulle moes hul titel by die finale toernooi van die jaar, Varsity Sports, verdedig. Op 10 Oktober het Maties en Universiteit Johannesburg (UJ) in die semifinaal by die Danie Craven-stadion kop aan kop gegaan. Eers in die vierde kwart het Maties vir die eerste keer tydens die wedstryd vir UJ verbygevat. 

“Teen die begin van die vierde kwart het ons geweet hierdie [kwart] sal die maak-of-breekpunt van die wedstryd wees. Daar was nog steeds twee power plays oor. Ons fiksheid en uithouvermoë het ons hier beloon, soos wat ʼn mens die span kan sien in ritme kom. UJ het baie besit [van die bal] verloor en Maties het hulle swakhede uitgebuit,” sê Maties Netbal-assistentafrigter, Adele Mouton. 

Maties-hoofdoelverdediger (HD), Danielle van Nieuwenhuizen, het die UJ-aanvallers op hulle tone gehou, en die pas vir die res van die wedstryd aangegee. Sy het die Speler van die Wedstryd-titel verdien ná haar laaste kwart toe sy van verdediging na aanval oorgeskuif het. 

Die Maroenmasjien het teen die einde van die derde kwart die puntetelling gelyk gemaak met 25 punte vir beide spanne. Hulle ervaring het deurgeskyn soos wat hulle die laaste kwart beheer het om uiteindelik die wedstryd 43 – 35 te wen en te vorder na die Varsity Netbal-finaal. Maties het bo uitgekom in hulle stryd vir hul eerste titel, nadat hulle tweede geëindig het in die afgelope drie finale. 

“Die meisies was in ʼn goeie headspace, veral met al hulle ondersteuners reg langs die baan,” vertel Maties Netbal-kaptein, Sian Moore, aangaande die semifinaal-tuiswedstryd. 

Die span het met die verlies van vyf hoofspelers, om verskeie redes, ʼn paar uitdagings in die gesig gestaar ná USSA . Dit het veroorsaak dat nuwe spelers in die spanstruktuur geïntegreer moes word. Hierdie wys egter net die grensloosheid wat Maties Netbal het, en die atletiese talent wat deur die jaar gekweek is. 

“Alles in ag geneem, die span het gegroei sedert USSA soos wat hulle aan hulself bewys het dat daar geen limiet tot wat hulle kan bereik, is nie,” sê Mouton.

“Daar is baie harde werk en hulpbronne in die voorbereiding vir ʼn kompetisie soos Varsity Netbal gesit, insluitend die tyd wat in die gym spandeer word vir spierbou en baanfiksheid sodat ons fiks genoeg is om die hele wedstryd te kan speel. Spelers moet opofferings maak. Teen die einde van die dag is dit alles die moeite werd, aangesien ons beloon is vir ons pogings, soos op die baan gesien is,” sê sewendejaar-Maties Netbal-speler, Nicholé Taljaard. 

Moore verduidelik ook: “Ons het al die boksies afgemerk en ʼn baie holistiese benadering gebruik met die voorbereiding vir die toernooi”

Die span se twee Protea-spelers het ook aangesluit nadat hulle nie aan die USSA kon deelneem nie, weens die Statebondspele, en hulle het ʼn vars dinamika tot die span gebring. Met die toevoeging van Taljaard by die span om aan te val en Nicola Smith om te verdedig, net weke voor die toernooi, moes die span vinnig aanpas. Die vrugte daarvan kon duidelik regdeur die toernooi gepluk word, soos toe Taljaar die opponente se aanval in drie verskillende posisies gedomineer het en Smith se teenwoordigheid op die baan onvervangbaar was. 

Die finaal is om die draai en Mouton voeg by: “Ek dink ʼn mens moet nooit vol wees van jouself wanneer jy ʼn finaal betree nie, veral as dit ʼn span is waarteen jy al tevore gespeel het. Ons moet net by die wedstrydplan hou en dit met konsekwentheid uitvoer. Jy speel kwart vir kwart.”

Universiteit Stellenbosch (US) se netbalspan is ʼn span om dop te hou en hulle het aangehou om hulle vaardighede, kalmte en veerkragtigheid te wys dwarsdeur die seisoen. Maties sal 17 Oktober om 19:00 by die Danie Craven-stadion teen Noordwes Universiteit (NWU) se netbalspan speel in ʼn poging om hulle eerste Varsity Netbal-kampioenskap ooit te wen. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial