Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ané Havenga

Maties se vrouerugby-sewesspan het hierdie jaar ’n kaptein wat nie net haar stempel by Maties afdruk nie, maar ook op die internasionale verhoog vir haarself ’n naam maak. Bianca Augustyn, MEng (Siviel)-student, het op 19-jarige ouderdom in haar tweede jaar by Maties begin om rugby te speel. Tot dusver hou sy behoorlik Maties se naam hoog.

“In 2019 het ons span ’n kompetisie gewen om Japan toe te gaan vir die rugbywêreldbeker. Dis iets wat ek altyd sal onthou. Een van my gunstelingprestasies is ook om aangewys te word as die beste speler vir Maties in die University Sports South Africa (USSA)-kompetisie en natuurlik om vroeër die jaar opgeroep te word na die Springbokke se vrouesewesspan”, vertel sy. 

Sy loof die kultuur by die Springbokke se vrouesewesspan aangesien elke speler hardwerkend en toegewyd is. Die spelers help ook mekaar om hulle volle potensiaal te bereik – al is die oefeninge moeilik. ’n Oomblik wat haar altyd sal bybly, is toe sy haar naam hoor in die span wat Statebondspele toe gaan. Dit het hierdie jaar van 28 Julie tot 8 Augustus plaasgevind. 

“Een van my gunsteling oomblikke was definitief om van die spelers van die ander lande te ontmoet. Dis wonderlik om net verby spelers te loop wat jy nog altyd [van] gedroom het om te ontmoet of wat jy net op die televisie al gesien het. Ek het ook die voorreg gehad om Stacey Fluhler van Nieu-Seeland, my gunstelingspeler, te ontmoet”, sê Augustyn.

Sy draf vir Maties-sewesspan op senter uit, maar vir die Springbok-sewesspan speel sy vaskop- of loskopstut. Daar is vir haar ’n paar oomblikke wat uitstaan as sy aan die Statebondspele dink. 

“[B]eslis om in my eerste wedstryd wat ek begin het uit te draf en ’n try-saving tackle te maak teen Fidji. Dit was ’n voorreg om die volkslied uit volle bors te sing. Ons het ook die mans- en vrouefinale in die stadion gekyk. ’n Groot pluspunt was ook dat daar orals verniet koffie- en kosstalletjies in die Statebondspele dorpie was waar ons gebly het”, vertel Augustyn. 

Johan Zeier, Maties-vrouerugbyafrigter (onlangs aangewys as Maties se Rugbyafrigter van die Jaar) is vol lof as hy oor Augustyn praat. 

“Bianca is die mees seniorspeler en sy weet presies wat van haar verwag word en wat ons wil regkry met ons vrouerugbyprogram. Sy verstaan die spel goed en werk vreeslik hard wat haar vanselfsprekend ’n goeie leier maak. Sy hou nooit op speel nie, gee nie maklik op nie, en is ’n ongelooflike voorbeeld vir die span. Daarmee saam doen sy goed akademies wat haar ’n goeie rolmodel vir die ander student atlete maak. Van die veld af geniet sy tyd saam met haar span en haar waardes maak haar ’n besonderse individu. Sy is beslis ’n maklike keuse vir kaptein”, sê Zeier. 

As Maties se seweskaptein beleef sy ook ’n wonderlike seisoen toe Maties goud verower by die jaarlikse USSA-toernooi wat van 23 tot 25 September in Kimberley plaasgevind het. Maties verloor nie een van hulle vyf wedstryde nie en reken in die finaal met Tuks af deur 21 – 7 te wen. 

Zeier is veral trots op hierdie span wat soveel dryfkrag wys regdeur die toernooi. Die spelers blink veral uit in die finaal – vasbeslote om te wen.

Verder sê hy, “Almal, van die spelers tot die ander hulpafrigters, het hulle hande opgesteek by hierdie toernooi en tot die beste van hulle vermoë bygedra sodat die groep sukses kan behaal. Dis regtig indrukwekkend om te beleef.” 

Vrouesewesrugby kry deesdae baie meer aandag. Zeier glo dis omdat dit die toeskouers al hoe meer vermaak soos wat die spanne se vaardighede verbeter. Hy wil graag aanhou bou by Maties se vrouerugby met die volgende drie vooruitsigte; “Om eerstens te verseker die spelers presteer akademies en dat goeie waardes af van die veld gekweek word. Tweedens, om hulle beter rugbyspelers te maak en seker te maak hulle geniet die sport. Laastens, om ’n omgewing te skep wat vroue bemagtig deur sport.” 

Daar is baie opwindende dinge wat in die toekoms vir dié span voorlê. Maties Sport kan beslis spog dat Augustyn volgende jaar weer in maroen uitdraf, veral nadat sy hierdie jaar bekroon is met die Vrouerugbyspeler van die Jaar-toekenning. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial