TOP EKONOOM Hugo Pienaar van die BEO is as ekonoom van die jaar bekroon. Foto: Verskaf

Oud-Matie Aangewys as Ekonoom van die Jaar

Deur Jan-Hendrik Pretorius

Hugo Pienaar, oud-Matie en hoofekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe geaffilieer is, is onlangs as die ekonoom van die jaar aangewys. 

Volgens Netwerk24, wat tans die kompetisie aanbied, word die ekonoom van die jaar-toekenning aan die ekonoom wat spesifieke belangrike makroekonomiese aanwysers soos die inflasiekoers die akkuraatste kan voorspel, toegeken.

Volgens Pienaar is dié kompetisie reeds in die 34ste jaargang en dit is die eerste keer wat hy, sowel as ’n ekonoom verbonde aan die BEO, die toekenning ontvang. ­Pienaar, wat die afgelope 16 jaar by die BEO betrokke is, het opgemerk dat “’n mens moet erken daar is maar so bietjie van ’n gelukskoot [by ekonomiese voorspelling betrokke]”, maar hy ag die toekenning as erkenning vir sy jare-lange werk wat hy al by die BEO gedoen het.

Vir studente wat graag ekonome wil word, maar nie noodwendig tans iets in daardie rigting studeer nie, kan Pienaar as rolmodel dien. Hy het sy ekonomiese loopbaan as finansiële joernalis begin voordat hy by die BEO aangesluit het. “Ek was vir ’n jaar en ’n half ’n ekonomiese verslaggewer by Die Burger gewees. As ekonoom moet jy baie skryf, so daai tydjie by die koerant het my skryfvaardighede nogal goed gedoen,” het Pienaar gesê.

US-studente wat binne die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe studeer, is opgewonde om te sien dat alumni van hulle fakulteit so goed presteer. Gabriella Neilon, ’n HonsBCom (Ekonomie)-student, het gemeen dat Pienaar juis te danke aan sy “akkurate ekonomiese voorspelling” die toekenning ontvang het. “Dit is wat ekonome doen – [dit is] hulle hele vibe. Dit [getuig van] die goeie program wat ons by Stellenbosch het,” verduidelik Neilon. 

Christopher Solomon, ook ’n HonsBCom (Ekonomie)-student, praat met trots oor sy fakulteit: “Ek dink enige nagraadse student by die [fakulteit] sal erken [dat] die kaliber van onderwysgehalte wat gehandhaaf word uitstekend is. Ongeag of jy klas kry by, byvoorbeeld, prof Servaas van der Berg, prof Johan Fourie of prof Dieter von Fintel, jy is verseker om blootstelling te kry aan individue wat kundiges in hulle veld is. Die verwagtinge is hoog, ja, maar die beloning nog groter.”

Neilon voeg by: “Kritiese denke is wat ons leer en waarop ons ingesteld is. [Die fakulteit] wil op die ou einde die beste ekonome kweek en [Pienaar] se toekenning is bewys daarvan. Wat ’n wen!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial