Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Kobus Erasmus

Maties se rotsklimklub het onlangs die opening van ’n splinternuwe klimmuur gevier. Oor die wintervakansie het die klub van lokaal verskuif om die alewig groeiende sport te akkommodeer. Die nuwe lokaal sluit nuwe klimmure en ’n moonboard in.

Dié opening en die opknappings was op 29 Julie gevier. Rakende al die opknappings het klublid Iben Swarts verduidelik dat dit alles deur komiteelede gedoen is. “Ons het regtig hard gewerk en alle onkostes is uit ledegelde betaal. Die nuwe muur is nie net groter nie, maar is meer modern as die vorige muur,” het Swarts vertel.

Tian Nothnagel, ’n tweedejaar-BIng (Megatronies)-student, deel sy opgewondenheid oor die nuwe klimmuur. “Die renovasies beteken natuurlik baie vir ons by die klub, maar meestal gaan dit oor die feit dat ons ons eie spasie gekry het. [Ons het uiteindelik] spasie om uit te brei en net heelwat meer spasie op die muur wat die potensiaal vir nuwe roetes net soveel [verbeter].”

Die rotsklimgimnasium is net buite Coetzenburg naby die krieketvelde geleë. Die klub is oop vir beginners sowel as ervare klimmers en volgens hulle Instagram-blad (@matiesclimbing), kan diegene wat gretig is om die nuwe muur uit te toets dit kom doen deur óf ’n lid van die klub te word (deur die skakel www.matiesclimbing.co.za te volg), óf deur gewoon ’n dagpas aan te skaf.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial