Deur Ila Alberts
Die Universiteit Stellenbosch (US) se uitvoerende bedryfshoof, prof Stan du Plessis, het in ’n onlangse e-pos aan studente en belanghebbendes aangekondig dat kragopwekkers op kampus tydens landswye fase 4- tot 6-beurtkrag nie meer buite kantoorure aangesit gaan word nie. Volgens die e-pos van 29 Junie sal kragopwekkers voortaan slegs by noodsaaklike geboue vanaf 17:00 aangeskakel word.
Die reaksie kom na aanleiding van Eskom se aankondiging dat Suid-Afrikaners hulleself moet voorberei op fase 6-beurtkrag, waartydens tot en met 12 ure se beurtkrag per dag verwag kan word. Tans het die meeste akademiese en navorsingsgeboue op US se kampusse noodkrag, luidens die universiteit se amptelike webtuiste.
Kyla Booysen, ’n tweedejaar-BA (Taal en Kultuur)-student, het genoem dat sy die situasie frustrerend vind. Sy woon nie op kampus nie, maar maak gebruik van ’n saamryklub om daagliks vanaf Parow na Stellenbosch te ry sedert klasse weer in persoon aangebied word.
“Die [beurtkrag] verminder beslis my vermoë om te werk omdat ek nie dan internetkonneksie het nie,” het Booysen gesê. Sy meen dat dit haar werk ook op ander maniere affekteer omdat sy “SUNLearn moet gebruik en navorsing op die internet moet doen om [haar] werk te kan voltooi”.
Sy glo egter nie dat die universiteit se keuse om nie kragopwekkers by studielokale tydens fase 4- tot 6-beurtkrag op kampus aan te skakel haar veel sal beïnvloed nie, aangesien sy nie ná ure op kampus studeer nie.
Dít is egter nie die geval vir studente wat op kampus woon nie. Bernard Oosthuizen, ’n vierdejaar-BRekLLB-student en HK-lid van Dagbreek-manskoshuis, meen dat minderbevoorregte studente die meeste onder hierdie besluit sal ly.
“Die grootste probleem behoort te wees vir studente wat nie oor die finansiële vermoëns beskik om ’n skootrekenaar aan te skaf nie. Dit is hulle wat tydens hierdie tye nie van die universiteit se openbare rekenaars gebruik sal kan maak nie,” het hy verduidelik.
Hy merk ook op dat gereelde kragonderbrekings vooruitbeplanning vir studente bemoeilik, en is van mening dat die US ’n verantwoordelikheid het om “dienste aan studente te verskaf waarvoor hulle betaal” en dat die skuld “nie te maklik aan ’n eksterne liggaam soos Eskom gegee [moet] word nie”.
“Ek was byvoorbeeld die week geskok om te sien dat in fakulteitsgeboue wat in elk geval nie [ná ure] vir studente oop is nie, al die ligte in die gange en portale brand. Ek het ook lanklaas enige bewusmakingsveldtog gesien rakende energiebesparing,” het Oosthuizen gesê.
“Ek verstaan die universiteit het begrotingsbeperkings. Ek dink egter mens kan slimmer te werk gaan om die hoofdoel hoekom ons almal hier is – studies – aan die gang te hou tydens beurtkrag deur krag te spaar op ander plekke, en op geteikende studieplekke die ligte te laat aanhou brand,” het Oosthuizen afgesluit.
Die universiteit het nie teen die tyd van publikasie Die Matie se navrae beantwoord nie.