OP DIE VERHOOG Mia van der Merwe en Jeanne-Marie Koekemoer in die produksie, Begrafnis op Beaufort Wes. Foto: Nardus Engelbrecht

Première Teaterfees Propvol Talent

Deur Bradley Grovers

 Die Première Teaterfees is terug nadat dit verlede jaar weens die COVID-19-pandemie aanlyn was. Die fees was vanjaar by die Adam Small Teater gehou met dramaproduksies wat vanaf Dinsdag 19 Julie tot Saterdag 23 Julie opgevoer is. 

 Rakende die doel van die fees, het dr André Gerber, een van die koördineerders van die Première Teaterfees, die inligting op die fees se webtuiste geëggo: “Première is ’n inisiatief ondersteun deur die Universiteit Stellenbosch [US] Dramadepartement om die skep van nuwe teaterwerk deur die studente van die departement aan te moedig.” 

 Gerber het ook gesê: “Ons wil jong teatermakers die platform bied om hulle vaardighede te vertoon, ’n gehoor te vind, en om die waters van die teaterbedryf te toets.” 

Die Première Teaterfees se webtuiste brei verder oor hierdie doel uit en lui dat dit poog “om ’n kultuur van deurlopende artistieke samewerking binne die dramastudentegemeenskap te bevorder deur die skep van nuwe teaterwerk te bewerkstellig”. 

 Elana-Marié Snyman, die ander koördineerder, en Gerber het die fees in 2018 gestig om die gaping tussen studente en die professionele teaterbedryf te oorbrug. Hiermee saam het Gerber gesê: “Ons het onmiddellik ondersteuning van verskeie professionele organisasies ontvang, insluitend die ATKV [Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging], NATi [Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief], Toyota US Woordfees, en die KKNK [Klein Karoo Nasionale Kunstefees].” 

Gerber het verder vertel: “Ons is baie gelukkig dat ons in staat is om so baie studente tegemoet te kom en dat ons hulle kon help om hulle voete in die bedryf te vind.” 

 Gerber het gesê: “Ons is ook trots dat baie van ons vorige wenners aangegaan het om hulle werk te verfilm en op nasionale televisie uit te reik.” Volgens Première se webtuiste “droom [ons] om ons jong akteurs, regisseurs, skrywers en tegnici ’n geleentheid te gee om hulle onderskeie ambisies te verwesenlik.” 

Liane van Vuuren, ’n derdejaar- BA (Drama- en Teaterstudie)- student, het gesê: “Ek dink dat die Première Teaterfees as inspirasie vir baie dramastudente dien. Die fees bied ’n lewensveranderende geleentheid wat ons nooit weer sal kan ervaar nie.” 

Sy het verder vertel: “Première bied vir jong aspirante teatermakers die geleentheid om hulle eie produksies te skryf en te vervaardig, en dit in die teenwoordigheid van professionele teatermakers in die bedryf. Dat hierdie inspirerende individue ons produksies beoordeel, is regtig ’n voorreg, nie net vir my nie, maar vir baie van my vriende en kollegas.” 

Volgens Gerber is “[d]ie fokus op die vervaardiging van hoë gehalte produksies in ’n omgewing wat stimulerend, opwindend, verreikend en inspirerend is”. 

“Première bied ook die geleentheid om bande tussen studenteteatermakers en die bedryf te vorm en om die begrip van die gehoor en gehoorbywoning in die breër studentegemeenskap van die universiteit te bevorder,” het hy gesê. 

Die produksie, ’n Gek vir jou, was op die laaste dag van die fees as die Beste Algehele Wenner asook die Beste Algehele Tegniese Versorging en Ontwerp aangekondig. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial