Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Emma Hamman

Die gewilde Carry 6 Packer-afsluitingspartytjie is Saterdag 23 Julie by die Van Der Stel-sportgronde herleef. Wilgenhof-manskoshuis se weeklange “kwottie” (quad-krieket) en vyf-per-kant- sokkertoernooi is terug vir die eerste keer sedert die pandemie en die vieringe was groter as ooit tevore. Wit tente het die sportgronde bedek en oral was dit ’n miernes van goeie musiek, lag en baie dans. 

Hierdie toernooi is die eerste keer in die 1970’s gehou en is na Kerry Packer, die entrepreneur agter die World Series Cricket, vernoem. Die toernooi – gewoonlik gehou tussen die “Republieke” (seksies) van Wilgenhof – neem hierdie jaar ’n ander vorm aan met die doel om koshuisinteraksie weer op die been te bring in terme van sport en sosiale lewe. Manskoshuise, vrouekoshuise en ’n barbarian-span is hierdie jaar in die welbekende toernooi ingesluit. 


 COOLER AS EKKE Jack Parow neem die skare af tydens sy vertoning. Foto: Taila Roos

Die toernooi is met van die groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf afgesluit en die gees was volop. Kunstenaars soos Jack Parow, GoodLuck, Max Hurrell en Sketchy Bongo het die verhoog betree en die skare van middag tot laataand vermaak. DJ’s soos Butterfly Effekt, Boerie Roll en Kurt April het met hulle die verhoog gedeel. Die atmosfeer was lewendig en die skare het behoorlik beweeg. 

Daniel Williams, derdejaar- BRek-student en een van Wilgenhof se HK-lede betrokke by die organisasie van die fees, verduidelik hoe die Carry 6 Packer ontwikkel het: “Die groot aand was aanvanklik net ’n viering van die week se wedstryde wat verby is, maar het oor die jare ontwikkel in ’n groot partytjie. Ons het hard gewerk om dit hierdie jaar te transformeer in iets ’n bietjie meer professioneel en afgerond.” 

Williams het verder beklemtoon dat Wilgenhof altyd opsie A sal wees vir ’n venue, maar dat die Van Der Stel-sportgronde as gevolg van regulasies ’n goeie plaasvervanger was. “Die venue is gekies omdat dit sentraal is. Die veiligheid van studente, veral dié wat stap, was ’n groot faktor vir ons.” 

“Dit was die beste manier om die eerste week van die tweede semester af te sluit. Ek kon duidelik sien hoe baie moeite in die projek ingegaan het,” lewer Ann Naude, ’n tweedejaar-BA (Menslike Hulpbronbestuur)-student, haar opinie oor die aand. 

Micah Daiber, tweedejaar- BScAgric (Plant- en Grondwetenskappe)-student stem met Naude saam en vertel dat die musiek top kwaliteit was. 

Die aand het volgens Williams glad verloop en was ’n groot sukses en studente het in massas opgedaag. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial