KRAGTIGE KAPTEIN Suné Luus, die kaptein, is reg om haar span te lei. Foto: Suné Luus se Instagram [@suneluus]

Vrouekrieket Vat Vlam Nasionaal en in Matieland

Deur Ané Havenga

Dit is heel gepas dat die Protea-vrouekrieketspan in Maart, die maand waarin Internasionale Vrouedag val, hulle wêreldbeker-veldtog afgeskop het.

Die laaste paar jaar het vrouekrieket behoorlik vlam gevat. Regoor die wêreld neem vrouens ook deel aan bekende reekse soos The Big Bash League en The Hundred met groot veilings waar die spelers gekoop word om te speel. Die mees gevolgde vroue-  krieketspeler op Instagram, naamlik Smriti Mandhana, spog met 5,7 miljoen volgelinge.  

Vorige wêreldbekerwedstryde het, volgens die Instagram-blad Female Cricket #CWC22 (@femalecricket), al meer as 80 000 toeskouers gelok en sommige van die vrouespelers het huishoudelike name geword. Suid-Afrika se krieketspanne en wêreldbekertoernooie loop nooit hand aan hand nie aangesien die Protea-krieketspanne (beide mans en vroue) tot dusver nog nooit ’n krieketwêreldbeker kon wen nie. Die vrouespan is egter slaggereed om die bordjies te verhang.

Vanjaar se Een Dag-krieket-wêreldbeker het in Nieu-Seeland op 4 Maart afgeskop waar Suid-Afrika die toernooi binnetree as die tweede gekeurde span. Australië ding mee vir hulle sewende titel en is volgens News24 die gunstelinge vir die toernooi as eerste gekeurde span. Tog glo kundiges dat die Proteas nie vlak gekyk moet word nie – veral nie met hulle skitterende vertonings van die afgelope paar jaar nie.

Daar is egter ’n paar kwelpunte vir die Suid-Afrikaanse span. Dané van Niekerk, veelsydige speler en die kaptein, is net voor die wêreldbeker met ’n voetbesering gekelder. Lizelle Lee, openingskolwer, verlede jaar se Een Dag-speler van die jaar en die negende beste speler op die Internasionale Krieketraad (IKR) se lys van top Een Dag-vrouekrieketkolwer, het as gevolg van COVID-19-regulasies die eerste wedstryd misgeloop. Dit blyk asof Shabnim Ismail, wat vyfde is op die IKR se lys van top Een Dag-vrouekrieketboulers, nie paaltjies kan vastrek nie en die openingskolwer Tazmin Britz sukkel om lopies aan te teken.

Sommige spelers moet egter in die Proteas se oorblywende wedstryde vir nog skitter-vertonings fyn dopgehou word . Die kolwer, Laura Wolvaardt (wat slegs 22 jaar oud is), is in ’n liga van haar eie. As openingskolwer vir die Proteas het sy op 17-jarige ouderdom haar eerste 100 lopies vir Suid-Afrika aangeteken. Slegs vier jaar later is sy die jongste Suid-Afrikaner wat al ooit 2 000 lopies aangeteken het. Sy word deur haar merkwaardige veldwerk en dekpunt-dryfhou gekenmerk.

’n Bouler om onder oë te hou, is Ayabonga Khaka, sesde op die IKR se lys van top Een Dag-vrouekrieketboulers, wat enige wedstryd in Suid-Afrika se guns kan draai. Daar word van veteraanspelers soos Suné Luus, Mignon du Preez en Marizanne Kapp (derde op die IKR se lys van top veelsydige Een Dag-vrouekrieketspelers en agtste op die lys van Een Dag-vrouekrieketboulers) verwag om waardevolle bydraes te lewer.

Die Proteas behaal ‘n driekuns, met oorwinnings oor Bangladesh, Pakistan en Engeland, op 5, 11 en 14 Maart onderskeidelik.

Jonty Rhodes, Protea-mans-krieketspeler en -legende, het  sy mening duidelik gemaak toe hy op 7 Februarie op Twitter na Wolvaardt se skitterende vangskoot gesê het: “No more bulls***t; give us more women’s cricket.”

Dit is dan ook op dié noot waar Maties en Boland se vrouekrieketspanne ’n rol speel. Maties se vrouekrieketspan oefen Woensdae en Vrydae. Dit is oop vir enige vrou en geen vorige ervaring word vereis nie. Michaela Hanekom, ’n tweedejaar-BEd (Seniorfase)-student by Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, is al vir ’n geruime tyd deel van dié span. Sy het gesê: “Ek het in graad 9 vir Boland begin speel en hulle het ons aangemoedig om vir ’n klub te speel. Ek het in my graad 10-jaar vir Maties begin speel.”

Maties speel aan die begin van die jaar in ’n 50 boulbeurte-liga en later die jaar in ’n T20-reeks oor naweke. By Boland is daar meer hulpbronne en meer afrigters tot hulle beskikking, maar Hanekom het die volgende oor Maties se span uitgelig: “Die gees is lekker en daar is baie nuwe spelers. Ek geniet dit om hulle te leer en te kan help. Dis vir my lekker as ek mense kan help sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.”

Hanekom is ’n veelsydige speler en hoop om eendag haar buiging vir Suid-Afrika te maak en in die voetspore van haar rolmodel, Wolvaardt, te volg.

Vrouekrieket is besig om behoorlik naam te maak en Suid-Afrikaners skroom nie weg van die kollig nie, veral nie met die Protea-vrouespelers wat floreer nie.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial