TIEN JAAR VAN SPOEGWOLF Die bekende musiekgroep Spoegwolf veroorsaak ’n musikale aardbewing soos wat hulle hul 10de verjaarsdag vier. Foto: Karla de Bod

Spoegwolf: ’n Dekade van Musiek, Passie en Liefde

Deur Karla de Bod

In 2001 het drie laerskoolkinders, Danie du Toit, Moskou du Toit en Albert van der Merwe, hulle eerste musiekgroep, Kosblik, begin. Kort daarna het nog ’n laerskoolvriend, Chris von Wielligh, by dié musiekgroep aangesluit en die naam is na Ysterkoei verander nadat al vier gematrikuleer het. In 2012 bring dié vier naïewe vriende hulle eerste album onder die naam Spoegwolf uit. Uiteindelik op Sondag 13 Maart 2022, ná agt suksesvolle albums, verskeie toekennings en derduisende aanhangers, het Spoegwolf hulle 10de verjaarsdag by Nooitgedacht Estate gevier met ’n brandende passie om partytjie te hou. 

Met piekniekmandjies, Cape Fynbos-wynboksies, kleurvolle Spoegwolf-hoedjies en ’n gesellige atmosfeer wat vinnig in ’n musikale aardbewing verander het, kan dié musiekgroep maar sê dat hulle verjaarsdagpartytjie ’n groot sukses was.

Aanhangers vang die Spoegwolf-oomblikke vas met ’n glasie Cape Fynbos-wyn. Foto: Karla de Bod

“Dit is ongelooflik om al ’n dekade saam hierdie [musiekmaak] te kon doen – dit is presies twee keer langer as wat ons gedink het ons dit sal kan doen, so dis net amazing,” het Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, gesê. 

Die musiekgroep was verwelkom met aanhangers se eggo’s van “Spoegwolf! Spoegwolf! Spoegwolf!” wat die hele Nooitgedacht Estate gevul het. Seremoniemeester van die dag, Johan Falck, het die musiekgroep op die verhoog aangekondig met die herhaalde vraag: “Is julle reg vir Spoegwolf?” Soos wat die groepslede by die verhoog opgestap het, het Danie du Toit se kitaarsnare die deuntjie van “Storm” begin speel terwyl die vier vir mekaar glimlag met ’n gesindheid van dankbare opgewondenheid. 

“Ek dink ons vriendskap was die ding wat ons bymekaar gehou het en ons is baie dankbaar daarvoor,” het Du Toit gesê. “Dit is meer soos ’n broederskap en ons het almal saam grootgeword so ek dink ons het mekaar goed geken en geweet wat om [van mekaar] te verwag, so dis ook lekker.”

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, lig sy arms op in dankbaarheid soos wat die optrede tot ’n einde kom. Foto: Karla de Bod

Die musiekgroep het hulle grootste treffers vir hulle “grootste Kaap-show ooit”, soos Danie du Toit dit beskryf het, gespeel, met liedjies soos “Lenie Blou”, “Verander”, “Silwer”, “Blou” en “Kort Donner” wat woord-vir-woord vir hulle teruggesing was. Nie ’n enkele oomblik het verbygegaan waar daar ’n stilte in die gehoor was nie – dié oomblikke was gevul deur die gelag, geskreeu en gesing van aanhangers. 

“Ons wil baie graag hê dat die mense in die gehoor vir ’n oomblik vry kan wees en vir ’n klein bietjie kan opstyg,” het Du Toit gesê.

Op ’n stadium, ná hulle optrede van “Lenie Blou”, het Du Toit die skare herinner dat húlle die eintlike Spoegwolf is aangesien dit die aanhangers is wat die musiekgroep “toelaat om musiek te maak”. Tydens die gesprek het aanhangers deel van die groep gevoel en ’n oorweldigende gevoel van passie, eenheid en vryheid het oor die gehoor gespoel – net waarvoor Du Toit gewens het.

Ná die viering van hulle 10de verjaarsdag kan dié musiekgroep met rustigheid in hulle partytjieklere gaan slaap en weet dat hulle deur musiek ’n dekade werd se herinneringe, passie en liefde in luisteraars laat broei het, en wat deur elke album warmer raak tot die dag wat almal, soos Danie du Toit voor wens, “saam sal glo in rock ‘n roll”.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial