PRET IN DIE SON Alkohol en eie kos word nie toegelaat nie, maar daar sal stalletjies by die vertoning beskikbaar wees. Photo: Jean-Marie Uys.

Some Sundays op ’n Maandag

Deur Jean-Marie Uys

Die piekniekkonsertreeks, Some Sundays, is op Menseregtedag terug met ’n vertoning wat glo die biesies gaan laat bewe. Die tweede laaste vertoning van die reeks sal rockgroepe Fokofpolisiekar en aKING, asook Uncle Spike op die verhoog by Nooitgedacht Estate buite Stellenbosch verwelkom. 

“Ek is veral opgewonde om weer vir aKING te sien,” het Rudolph Bührmann, derdejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student wat reeds sy kaartjie gekoop het, gedeel met Die Matie.

“Ek het nie geweet hulle gaan weer live performances doen nie, en ek is al ‘n massiewe aanhanger vandat ek soos tien [jaar oud] was.”

Hennie van Halen, een van die vier lede en kitaarspeler van aKING, eien hulle stilte toe aan “hoe almal se lewens verander het in die laaste twee jaar”, maar dat daar wel nuwe musiek in sig is vir die toekoms. 

“Ons het so vier of vyf songs wat nuwe materiaal is, maar wat ons kind of in die back pocket hou vir wanneer ons eendag tyd en appetite het [om te] gaan record,” het Van Halen gesê. 

Kaartjiehouers word aangeraai om ’n piekniekkombers of stoel, en sonbrandmiddel saam te neem, asook om vroeg op te daag om ’n skadukolletjie te verseker. 

Alkohol en eie kos word nie toegelaat nie, maar daar sal kosstalletjies wees wat, onder andere, tradisionele houtvuur-pizza en Meksikaanse snoeperye voorsien. De Grendel-wyn, vars broubier van Devil’s Peak en Six Dogs-jenewerskemerkelkies sal ook vanaf 12:00 (wanneer die hekke oopmaak) beskikbaar wees . 

Van Halen hoop “dat mense wat nog nooit [aKING] live gesien het nie hopelik verras [sal] wees” met hulle optrede, aangesien die groep “die beste live op die stage [klink]”. “Live shows is ons kos – warm, regtige loud [en] sweterige rock-shows,” verduidelik van Halen.

Kaartjies vir 21 Maart is op Some Sundays se Instagram-blad (@some.sundays) as uitverkoop verklaar, maar dié wat uitmis, word gerusgestel dat daar steeds kaartjies op hulle webtuiste vir die konsertreeks se finale vertoning op 27 Maart beskikbaar is. Matthew Mole, Desmond and the Tutus sowel as Year of Dogs is bespreek om die seisoen op ’n goeie noot te eindig. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial