Deur Danielle Joubert
Olympus Privaat Studente Organisasie (PSO) se prim en onderprim is onlangs gevra om vanuit hulle posisies te tree as gevolg van die Universiteit Stellenbosch (US) se Higher Education Management Information System (HEMIS)-beleid. Dié leiers is in kennis gestel dat hulle hul termyn as HK-lede sal moet kortknip omdat hulle nie die vereiste leierskap-HEMIS behaal het nie.
“Gedurende die [verwelko-mingstydperk] het ek gesukkel om in kontak te kom met die universiteit, en kon dus geen van die nodige inligting kry oor wat presies [my] graad behels, ensovoorts nie. Dit het daartoe gelei dat ek eers aan die einde van die tweede week uitgevind het dat ek nie toegelaat word om ’n leierskapsposisie te vul nie,” het een van die twee leiers wat uitgetree het, maar anoniem wou bly, gesê.
Sy het verduidelik dat die universiteit blykbaar voor die tweede week van klas (toe sy uitgevind het dat sy nie meer ’n leierskapsposisie kon beklee nie) gekyk het of haar HEMIS reg is. Sy voeg by dat hulle haar goedgekeur het om terug kampus toe te kom as ’n spesiale student. Sy is toe eers later in kennis gestel dat spesiale studente nie in leierskapsposisies mag dien nie.
HEMIS verwys na die berekening van ’n student se akademiese resultate om ’n punt uit een te bepaal, met leierskap-HEMIS wat na die basiese minimale punt verwys wat benodig word om ’n leierskapsposisie te beklee by die US, aldus die grondwet van Olympus. Luidens dié beleid se afdeling 3.2.2., is dit ’n vereiste dat diegene wat vir HK-posisies staan die nodige HEMIS behaal om vir die posisie in aanmerking te kom, tensy die verkiesingskomitee anders besluit. Die nou afgedankte onderprim was gevra om aan te bly gedurende die US-verwelkomingsweek en eers daarna om uit haar leierskapsposisie
te tree.
“Die herskuif van leierskaps-posisies was ongelooflik stresvol vir my gewees,” het Kutlwano Tshidi, ’n tweedejaar-BAgric (Agri-besigheidsbestuur)-student wat as die nuwe HK vir kultuur vir Olympus gekies is, gesê. “Dit is ’n ongelooflike groot verantwoordelikheid wat aan my [oorhandig] is. Dit was tot dusver ’n moeilike proses en ek sou dit definitief nie kon regkry sonder die res van die Olympus-span nie.”
Heather Mae Lawson, ’n HonsBA (Drama- en Teaterstudie)-student, en Vukile Maseko, ook ’n HonsBA (Drama- en Teaterstudie)-student, is onderskeidelik as die nuwe prim en onderprim van Olympus-PSO verkies. Hulle het verkies om nie kommentaar te lewer nie.
“Olympus het die verandering van leierskap baie professioneel hanteer en te danke aan hulle voel ek nie die skuif het my so baie geraak nie,” het Ulrich Lategan, ’n tweedejaar-BSc (Rekenaarwetenskap)-student en ’n Olympus-lid, gesê.
“Dit sou baie gemakliker gewees het as [die US] laas jaar almal in kennis kon stel en nie eers ná ure en ure se werk ingesit is nie.”
“Die skielike verandering in leierskap het my nogal verbaas gehad om die waarheid te sê; ek dink nie enige iemand het dit verwag nie,” het Leandri Louw, ’n HonsBMus-student wat ook deel van die PSO is, gesê. “Ek sien wel uit om te sien wat die ‘nuwe’ leierskap gaan doen in die termyn en ek hoop dat hulle Olympus as geheel na nuwe hoogtes sal neem.”
Die verandering in die Olympus-leierskapspan vorm deel van ’n groter situasie. Meer as 30 studente is verplig om hulle rol as leiers op te gee, weens die universiteit se HEMIS-beleid. Dit is volgens Toni Solomons, die voorsitter van die US-primkomitee,
in ’n MatieMedia-artikel van
8 Maart.