KARLA VAN DER MERWE (assistentredakteur) lees deur die eerste proefdruk van Penseel. Foto: Maryna Adshade.

Departement Afrikaans en Nederlands VER[r]AS met nog ’n Penseel

DEUR MARYNE ADSHADE

Ná ’n paar maande se werk en gewag, kan die Universiteit Stellenbosch (US) se studente uiteindelik die Penseel-studentebundel van 2021 onder oë kry om die gedigte en kortverhale deur van hulle medestudente te waardeer.

Dié bundel verskyn jaarliks as een van die projekte van die US se departement Afrikaans en Nederlands se studentekomitee, die Vereniging vir Afrikaansstudente, oftewel die VER[r]AS-komitee. Die redaksie wat aan verlede jaar se bundel gewerk het, het onder die leiding van prof Andries Visagie, ’n dosent in die departement, gewerk en was bestaande uit die volgende studente: Rentia Meyer, Madeleine Kruger, Anouk Cronjé, Duné van Jaarsveld, Pippa Bester, Charlton Andrew, Karla van der Merwe (assistentredakteur) en Maryna Adshade (redakteur).

Penseel het ’n lang geskiedenis in die departement nadat dit aanvanklik in 1969/70 gestig is en bykans elke jaar daarna nog verskyn het.

Oor die bundel se geskiedenis, het Visagie gesê: “Bekende skrywers het al in die verlede ’n eerste buiging in publikasies soos Penseel gemaak. Hopelik is die 2021-uitgawe ook die begin van nog baie verdere kreatiewe uitsette van die studente wat gedigte en kortverhale voorgelê het.”

’n Paar bekroonde skrywers wat al in Penseel gepubliseer is, sluit in Marlene van Niekerk, Joan Hambidge, Etienne van Heerden en dr Alfred Schaffer, ’n dosent aan die departement.

Verlede jaar se proses om die bundel tot stand te bring, is in Oktober afgeskop toe enige US-studente, ongeag hulle fakulteit en jaargang, enige oorspronklike Afrikaanse gedigte of kortverhale kon inskryf. Ná die sperdatum vir inskrywings het ’n paneel keurders die beste werke uitgewys, met die paneel wat bestaande was uit dosente van die departement Afrikaans en Nederlands, naamlik ­dr Amanda Lourens, dr Alfred Schaffer en Marius Swart.

PENSEEL 2021 Lynkuns pronk op die voorblad van die nuwe Penseel. Foto: Departement Afrikaans en Nederlands

Anouk Cronjé, ’n tweedejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, was deel van die redaksie, maar het ook van haar werk ingeskryf en is gekeur. Rakende haar ervaring het sy gesê: “Om deel te wees van die redaksie van Penseel was ’n heerlik verfrissende oefening! Dis nogal bemoedigend om te sien nie net hoeveel inskrywings daar was nie, maar hoeveel inskrywérs daar was – Afrikaans is beslis nie dood nie, ook nie onder studente nie. Ek sou enigeen wat graag hul skryfwerk die lig wil laat sien, aanraai om vir die volgende uitgawe in te skryf. Jy het niks om te verloor nie en die keuringspan is regtig van hoogstaande gehalte, so dis ’n goeie platform as jy nog die skryfwaters wil toets.”

Vir ander studente wie se werk gekeur is, het die bundel weer die geleentheid gebied om hulle liefde vir skryf en woorde te kan deel. “Ek het ingeskryf vir Penseel omdat ek lief is vir digkuns en geweet het dit die beginpunt is om ander ook in te laat in my passie vir skryf en my uitsig van die lewe. Die gedigte en digters wie se werk saamgestel word, is elke jaar divers en die bundel se gehalte is onmeetbaar. Dit is ’n voorreg om te weet dat van my gedigte ook gekies is vir publikasie, want ek weet woorde dra baie krag en dat dit op hierdie manier meer en meer mense sal kan bereik,” het Kerscher Don, ’n HonsBA (Sielkunde)-student, gesê.

Soos vir Don, is publikasie in die bundel ook vir Hanrié Viljoen, ’n derdejaar-BA (Politieke, Filosofiese en Ekonomiese Studies)-student, ’n voorreg en iets waaroor sy baie opgewonde is.

“Ek sal enigiemand wat ernstig voel oor en ’n liefde het vir skryf altyd aanraai om in te skryf vir soveel as moontlik publikasies. Al word daar nie altyd veel daarvan nie, is die idee van jou woorde wat selfs een ander persoon aanraak só kosbaar vir ’n skrywer. Met moderne media deel ons nie meer ons idees op optimistiese en sagte maniere nie en poësie veral is so ’n mooi en sagte, maar tog kragtige, manier om by te dra tot gesprekke.”

Die bundel is beskikbaar teen R70 en die departement Afrikaans en Nederlands se Instagram-profiel (@departement_afr_en_ndl) en Facebook-blad (@USDeptafrndl) kan dopgehou word vir verdere inligting rondom die aankoop en bekendstellingsgeleentheid van die bundel.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial