Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR ESTEÉ VAN HEERDEN

Vanjaar spog die Universiteit Stellenbosch (US) met drie studente wat aan die 36ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) gaan deelneem.   Dit is een van Suid-Afrika se mees uitstaande musiekkompetisies, wat van 6 tot 11 Desember by die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow, Kaapstad gaan plaasvind. 

Die kompetisie, wat as een van die strafste kompetisies vir jeugmusici beskryf word, het nuwe hoogtes bereik en spog met 45 inskrywings van regoor Suid-Afrika. Ná uitdagende oudisies is 27 jeugmusikante, tussen die ouderdom van 14 tot 19, gekies. 

Van die 27 musikante is daar drie US-studente wat ook in Desember gaan deelneem. Dié musikante is Jacqueline Choi (’n tweedejaar-BScFisio-student), en Ying-Shan Tseng (’n eerstejaar-BMus-student) wat die klavier bemeester het, en Caro Hill (’n eerstejaar-BMus-student) wat viool speel. 

Die voornemende deelnemers kan in vyf kategorieë meeding: klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander wat instrumente soos harp en slagwerk insluit. Die Wes-Kaap spog met die meeste kandidate, naamlik 12, en altesaam is daar ’n verskeidenheid van 11 musiekinstrumente wat op die verhoog bespeel sal word.

Die deelnemers kompeteer oor vier rondtes, waar die wenner ’n R155 000-kontantprys sal ontvang. Ten spyte van die vele medaljes op die spel, is die kompetisie se einddoel om Suid-Afrika se volgende klassieke musieksterre te identifiseer, en hulle ’n hupstoot vir ’n blink toekoms in die musiekwêreld te gee. 

Weens die COVID-19-pandemie was die kompetisie in 2020 gekanselleer. Daar sal egter regulasies in plek gestel word om almal se veiligheid te verseker en die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS) het ook ’n professionele gesondheidspersoon aangestel om die veiligheid van deelnemers, hulle ouers, leerkragte en gehore te verseker.

Soos gesien op die Roekeloos-webblad, verklaar Michael Maas, voorsitter van die NJMS, die volgende: “Die gesondheid en veiligheid van ons toekomstige klassieke musieksterre, hulle ouers en leerkragte is ononderhandelbaar.” Maas het die kompetisie 36 jaar gelede in Port Elizabeth begin en die kompetisie is buigsaam genoeg om enige struikelblokke te oorkom. 

In 2019 het die 19 deelnemers sowat 137 werke opgevoer, en vanjaar sal die deelnemers werke uit verskillende styltydperke voordra. Dus, vereis die kompetisie vele ure van die deelnemers om hulle tegniek te bemeester en hulle vaardighede ten toon te stel. Bo en behalwe die hoë standaarde, is dit ’n hoogs kompeterende gebeurtenis, waar net 12 deelnemers sal deurdring na die derde rondte.  Op Saterdag 11 Desember sal die ses finaliste wat deurgedring het tot die finale rondte die kans kry om met die bekende Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en die dirigent, Brandon Phillips, te speel. 

Twee van die deelnemers studeer oorsee wat bydra tot die kompetisie se internasionale blootstelling. Verder is die eerste drie rondtes en prysuitdelingseremonie oop vir die publiek en gratis beskikbaar op die NJMK-webblad (https://www.nymc.co.za/#). Vandag moet kinders gesien en gehoor word, en die kompetisie is ideaal vir jeugmusici om eindelose ondervinding en geleenthede te beleef.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial