DEUR ILA ALBERTS
Kontrakteurs is sedert die begin van Oktober by die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuine besig met die bou van ’n nuwe uitstalling. Hierdie afdeling sal vier nuwe skaarse habitats huisves met baie bedreigde spesies. Dit beloof om nie net ’n waardevolle bydrae tot die US se praktiese biodiversiteitstudies te lewer nie, maar ook te lei tot ’n beter begrip van komplekse fynbosekosisteme onder besoekers, volgens ’n onlangse persverklaring van die universiteit.
“Die uitstalling was in die ontwerp- en beplanningsfase vir ’n jaar voordat konstruksie aan die begin van hierdie maand begin het. Ons beplan dat al die harde infrastruktuur aan die einde van hierdie jaar voltooi sal wees,” het Katy Rennie, landskapsargitek en intern by die botaniese tuine wat aan die hoof van die nuwe projek is, laat hoor.
Die uitstalling wat met die ondersteuning van die Tafelbergfonds, ’n kapitale bewaringstrust vir die beskerming en bewaring van fynbos, gebou word, sal vier nuwe fynboshabitats en tot en met 500 nuwe plantspesies huisves. Hierdie ondersteuning vorm deel van die fonds se Pride-program wat R4,5 miljoen aan verskillende projekte skenk om sodoende onder meer “die jeug oor die wonders van fynbos op te voed”, luidens die Tafelbergfonds se webtuiste.
Dr Donovan Kirkwood, kurator van die botaniese tuine, het ’n befondsingsvoorstel aan die Tafelbergfonds gerig aangesien Stellenbosch perfek geleë is om bedreigde fynbos aan te plant en terselfdertyd die publiek oor die habitats op te voed.
Volgens Rennie beoog die botaniese tuin om hulle twee doelwitte, naamlik bewusmaking en bewaring, te bevorder deurdat bedreigde habitats en spesies uitgestal sal word wat hopelik studente en besoekers se toekomstige gedrag sal beïnvloed. Dit is die botaniese tuin se 99ste bestaansjaar op sy huidige adres en word voortdurend vernu soos die aalwynuitstalling wat ook tans verander word.
“Die [Universiteit Stellenbosch] se Botaniese Tuine beoog om ons wêreldklas akademiese konteks te gebruik om plantbewaring en opvoeding te ondersteun. Ons ligging in die episentrum van enorme habitatsverlies in die landbou en stedelike landskap binne die biodiverse Cape Flora-area plaas ons in ’n ideale posisie om aktief betrokke te wees in die bewaring van hierdie internasionaal belangrike landskap,” het Rennie verder gesê. Die uitstalling behoort teen 2023 ten volle voltooi te wees.
Volgens Ben Wiese, ’n eerstejaar-LLB-student aan die US wat gereeld die tuine besoek en dit as “die [vreedsaamste] plek in Stellenbosch” beskryf, is dit eens dat die konstruksie ’n “tydelike versteuring” is, maar dat hy glo die uitstalling die tuin sal verbeter.
Oskar Oveland, Noorweegse uitruilstudent aan die US en liefhebber van die tuine, stem saam. “Dit steur nie so baie nie; solank die uitstalling net die moeite werd is op die ou einde.”
Tans is slegs die hek in Van Riebeeckstraat oop weens die bouery. Volgens die tuine se Instagram blad (@subotgarden) begin die plantproses dadelik soos wat die habitat reg is, maar beoog dat dit tot 2022 of 2023 kan aanhou.