DEUR WILLIAM SEZOE
Die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede week die naam Krotoa op een van die geboue verwelkom. Dit is nadat die US op Woensdag 25 Augustus die nuwe naam vir die RW Wilcocks-gebou bekendgemaak het.
Die gebou wat die departemente geskiedenis en sielkunde, die afdeling navorsingsontwikkeling, US Internasionaal, die US argief, en die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluasie en Tegnologie huisves, sal nou bekendstaan as die Krotoa-gebou.
Die gebou is in 1966 vernoem na Raymond William Wilcocks, die oudrektor van 1933 tot 1954. Die proses om die gebou se naam te verander het alreeds in 2019 begin. Volgens ’n mediaverklaring van die US op 25 Augustus 2021, is ’n versoek in 2019 van die rektoraat aan dr Ronel Retief (die registrateur) en dr Leslie van Rooi (die senior direkteur van sosiale impak en transformasie) gegee. Die mediaverklaring noem verder dat hierdie versoek aan hulle gegee is om “’n institusionele en inklusiewe proses vir die naamsverandering van die Wilcocks-gebou te begin”.
Die US se rektoraat is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van die universiteit en bestaan uit prof Wim de Villiers (rektor en visekanselier), prof Stan du Plessis (uitvoerende bedryfshoof), Retief (registrateur), en verskeie viserektors en direkteure.
Luidens dié mediaverklaring het die Uitvoerende Komitee van die US Raad (UK(R)) die naamsverandering op 16 Augustus vanjaar goedgekeur nadat die rektoraat in Junie ’n kortlys van voorgestelde name ontvang het. Die kortlys, wat aanvanklik 17 voorgestelde name op gehad het, is ná heroorweging verminder en toe aan die rektoraat voorgelê.
Die kortlys was voorsien deur die komitee vir die naamgewing van geboue, lokale en ander plekke, waarvan Retief die voorsitter is. Martin Viljoen, die US se mediabestuurder, het aan Die Matie genoem dat Hope – Ithemba – Hoop Gebou, Eva Krotoa Gebou, Russel Botman Gebou, Die Vlakte Gebou en die Lilian Ngoyi Gebou van die ander voorgestelde name op die kortlys was.
Volgens die mediaverklaring word Krotoa (1642-1674) voorgestel as ’n vrou van die Khoe-mense wat aan die Kaap geleef het toe Jan van Riebeeck in 1652 ’n nedersetting vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) aan die Suidpunt van Afrika kom vestig het.
Buiten dat die naam bydra tot die verteenwoordiging van vroue op kampus, gee dit ook, volgens Retief in die mediaverklaring, erkenning aan “’n ganse onderverteenwoordigde groep mense wat inheems is aan Suider-Afrika en die gebied wat ons vandag as die Wes-Kaap ken”.
“Sodoende word terselfdertyd erkenning aan die erfenis van die Eerstenasiemense van ons streek gegee, en erken ons ook iets van ons gedeelde en komplekse geskiedenis,” sê Retief in die mediaverklaring.
Van Rooi het Retief se mening beaam deur ook in dié mediaverklaring te noem dat die naamsverandering bydra tot die US se rol om die Eerstenasiemense in die groter Suider-Afrika te erken: “Die belang daarvan om die naam Krotoa aan ’n prominente gebou op kampus te koppel moet ook verstaan word teen die agtergrond van die voortdurende gesprek oor die ondersteuning en formulering van Khoekhoegowab-taalverwante kursusse by die US.”
Van Rooi meen verder: “Gesprekke oor die naam, ook met die gepaste Khoe-strukture, gee erkenning aan Krotoa as belangrike figuur, maar ignoreer nie haar komplekse, tragiese geskiedenis as mens nie.”
Lede van die publiek het uiteenlopende kommentaar gelewer oor die nuus van die naamsverandering waarvan die meerderheid van die kommentaar positief was teenoor die nuwe naam.
Volgens Denver Breda Toroga, Khoi-Khoi-aktivis, is die naamsverandering egter steeds problematies. “Die US het niks by die [Universiteit van Kaapstad] geleer nie. Om die naam van ’n Khoi-Eerstenasievrou aan ’n gebou te koppel wat eers die naam van ’n onderdrukker gedra het, is verkeerd en problematies,” sê Toroga.
Toroga meen ook dat die naam geen erkenning aan Khoi-Khoi-mense bring nie. “Ná 27 jaar word Khoi-Khoi steeds nie as amptelike taal erken nie. Geen universiteit druk vir die erkenning van die taal nie. Niemand nie. Ook lê ons voorouers se bene onder dieselfde geboue; niemand vra om verskoning nie. Ook staan die geboue op gesteelde Khoi-land; geen erkenning en regstelling geskied nie,” meen hy.
Naomi Bruwer, oudjoernalis en fotograaf van Die Matie, verwelkom die naamsverandering as goeie simboliek. “Aangesien dit in die einste [Wilcocks-gebou] is waar ek en menigte ander Stellenbosse studente met die geskiedenis van Krotoa kennis gemaak het, vind ek dit heeltemal gepas dat dit herdoop is tot die Krotoa-gebou,” sê Bruwer.
Bruwer meen ook dat die naam Krotoa ’n simbool van verbinding en samehorigheid is. Sy verduidelik: “Nie alleen is sy ’n belangrike vroulike verteenwoordiger van die Eerstenasie nie, maar ook iemand wat van ’n baie jong ouderdom ’n daadwerklike rol gespeel het om die mense met verskillende kulture en tale bymekaar te bring.”
In die mediaverklaring noem die US dat “uitbeeldings binne en buite die gebou wat sowel die Wilcocks- as die Krotoa-stories kontekstualiseer” word tans beplan.
Viljoen noem verder dat die kostes nie buite begroting sal wees nie. “Die universiteit voorsien nie ’n groot koste buite die bestaande begroting van fasiliteitsbestuur nie. Die aanbring van die nuwe naam sal teen ’n minimale koste wees. Vanuit die begroting vir visuele regstelling sal daar twee konteksborde opgerig word om Krotoa en Wilcocks te kontekstualiseer,” sê Viljoen.
Volgens Viljoen sal die nuwe naam binne die volgende twee weke op die gebou te siene wees. Hy noem dat die konteksborde, wat soortgelyk is aan dié voor die Ou Hoofgebou en Jan Mouton-gebou, moontlik voor die einde van die jaar op sal wees.
Of nog US-geboue se name gaan verander, is volgens Viljoen ’n moontlikheid. Hy verduidelik: “Die US se nuwe beleid vir visuele regstelling, wat in September vir goedkeuring voor die raad dien, verskaf ’n raamwerk vir toekomstige naamgewing. Daar sal dus in die toekoms nog name wees wat gaan verander.”