Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR MIA VAN DER MERWE

Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin het onlangs op hulle Instagram-blad (@subotgarden) aangekondig dat hulle ’n kalkoen op hulle gronde ontdek het. Die kalkoen is op 11 Augustus deur Bonakele Mpecheni, die botaniese tuine se grondbewaarder, ontdek; dit was ook toevallig op sy verjaarsdag.

Dr Donovan Kirkwood, kurator van die botaniese tuine, verduidelik dit is  onwaarskynlik dat die kalkoen op sy eie in die tuine ingekom het aangesien die voël se vlerke geknip is. Kirkwood noem egter dat dit wel moontlik was vir die kalkoen om deur die hekke van die tuine self in te kom aangesien daar areas rondom en naby die tuine is wat kalkoene aanhou. 

Volgens die tuine se Instagram-blad het die personeel die kalkoen “Christmas” gedoop omdat kalkoen ’n gewilde dis tydens Kerstyd is. “Dit is ’n klein grappie ten koste van die kalkoen, selfs al het ons besluit om hom nie te eet nie,” sê Kirkwood. 

Die kalkoen kon ongelukkig nie in die tuine bly nie omdat hulle volgens Kirkwood  baie morsige diere is wat geweldig baie geraas maak. “Ons het dit nie waardeer om elke dag paadjies en brûe skoon te maak nie, en baie besoekers was bang vir hom,” sê Kirkwood. “Ons is ’n akademiese leer-, navorsings- en opleidingsfasiliteit, en rondloperplaasdiere dra nie werklik tot enige van ons omgewingstories by nie. Verder is kalkoene sosiale diere en dit is nie goed om hulle alleen aan te hou nie.”

Kirkwood noem dat hoewel die meerderheid van die personeel nie té lank oor die kalkoen se vertrek getreur het nie, daar wel ’n paar mense was wat nie na die afskeid uitgesien het nie. “Veral Marga [Rai] wat die winkel bestuur en seker gemaak het dat [die kalkoen] elke dag gevoer was. Die meeste van ons is egter bly om nie meer ‘gobble, gobble, gobble’ in die agtergrond te hoor nie of groot bird poo op alles te kry nie.”

Christmas is aangeneem deur Renier van der Westhuizen van San Gabriel Homestead, ’n gastehuis wat tussen Stellenbosch en Somerset-Wes geleë is. Christmas is hier na “Krismis” hernoem aangesien een van die twee kalkoene saam met wie hy nou woon alreeds die naam van Christmas dra. Later is Krismis se naam egter ’n tweede keer verander – hierdie keer na Pablo.

Pablo, tesame met die ander twee kalkoene (Christmas en Stuffing), sal hier ’n area van 10 hektaar hê om vrylik rond te beweeg en sal ook drie maal per dag deur hulle nuwe eienaars gevoer word. 
Volgens Van der Westhuizen het die kalkoen mooi aangepas en floreer nadat hy na San Gabriel Homestead oorgeplaas is en sê: “Hy leef ’n ware bederfde lewe. Sy verekleed het begin teruggroei en hy bulder en toon selfs paringsgedrag.”

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial