Ja Meneer - Die OSK reg vir Opvoedkunde Week en al die lekker dinge wat hulle beplan het. Foto: Henk Oets.

Matie-Opvoedkunde-Studente Maak Hulle Stem Dik Oor Onderwyskwessies

DEUR WILLIAM SEZOE

Die Opvoekunde Studentekomitee (OSK) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Opvoedkunde fakulteit het vandeesweek hulle eerste Opvoedkunde Week ingestel om hulle stem te lig oor onderwyskwessies.

Die week het Maandag op ’n hoë en interaktiewe noot afgeskop toe talle studente in lyn met die regering se COVID-19-maatreëls bymekaar gekom het vir ’n “Back To School”-tema vasvra-aand.

Volgens Marcel Adams, voorsitter van die OSK, het hulle besluit om dié week te skep om die rol van opvoeders onder studente te beklemtoon.

“Daar word neergekyk op ons wat onderwys studeer, want daar is hierdie wanpersepsie dat onderwys ’n maklike kursus en die maklike uitweg is. Hulle vergeet die kardinale rol wat onderwys in die samelewing speel,” verduidelik Adams.

Hy voer aan dat hulle met hierdie week Matie-opvoedkunde-studente wil inspireer om trots te wees op hulle beroepskeuse.

“Daarom het ons besluit om eerstens ons studente te herinner aan die rol wat hulle in die samelewing speel en ’n trotsheid onder hulle te bou as toekomstige onderwysers. Hierdeur bou ons eenheid en daarmee saam kan hulle die wanpersepsies oor onderwys gaan verander,” verduidelik Adams.

Die groep het woord by die daad gevoeg en vroeg Dinsdagmiddag die Stellenbosch-kampus vol woorde gaan plak en skryf om die rol van onderwysers vir te beklemtoon. Plakkate soos “Onderwys is die kern van alle beroepe” en “As jy dit kan lees, bedank ’n onderwyser” was wyd en suid op US-kampusgeboue geplak.

Volgens Adams is dié bewusmakingsprojek ’n baie belangrike aksie. “Hiermee wil ons eerstens die opvoeders wat ons onderrig het, bedank, maar ook om vir nie-onderwysstudente herinner dat ons eintlik alle ander beroepe bepaal en verseker,” sê Adams.

Die OSK in samewerking met hulle Opvoedkunde Maatskaplike Regverdigheid Subkomitee (dit is die Education Social Justice com op Insta) sal Donderdagaand by dié fakulteit ’n gesprek hou rondom die effek van geestesgesondheid op onderwysers en leerders. Verder sal hulle Vrydag met ’n bergstap met die tema “neem ’n tree in my skoene” na Coetzenburg afsluit.

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram