Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Tiaan Booyens

“Dis soos ’n deurgangsritueel om in Aandklas te speel,” het Joshua Swanepoel, voorman van die musiekgroep Aflos, gesê voor hulle optrede by die kuierplek op Woensdagaand 31 Maart. Dié opkomende kwintet is vasbeslote om ’n goeie tyd te hê en dit met hulle medestudente te deel. Aflos het met gees en uit volle bors lekker geraas gemaak op die aand voor die een jaar herdenking van hulle eerste EP “Out on a Bender”.

Van die begin af was Aflos aan die brand. Ian Neethling, ’n sagteware-ingenieur wat sy musiekdrome probeer waar maak, het die verhoog vir Aflos geopen met liedjies van John Mayer, Vance Joy en vele ander snitte te same met van sy oorspronklike musiek. Daarna het Aflos se indie-punkrock-klanke deur Aandklas se luidsprekers geresoneer soos talle plaaslike kunstenaars voor hulle s’n ook het, insluitende Desmond & The Tutus en Koos Kombuis.  

Aangesien die meeste van die groepslede musiekstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) is, is dit nie verbasend dat hulle mekaar gevind het nie. Buiten vir Swanepoel, bestaan die groep ook uit Jess Meissner, Ben Hatch, Renier van Rooyen en Chris Burgess. Swanepoel betower die gehoor met sy stem en kitaar, Meisnerr (die groep se bestuurder) is die klawerbord- en baskitaarspeler, en Hatch is ook ’n kitaarspeler. Van Rooyen is ook ’n uitstekende sanger en sing net so goed soos hy baskitaar (en tamboeryn) speel terwyl Burgess die dromme meesterlik tref. Die groep het vanaf hulle ontstaan verander soos hulle die aflosstokkie oorgegee het aan die lede wat tans in Stellenbosch naam maak.

Volgens Meissner gaan die groep binnekort van hulle musiek begin opneem. Sy werk daaraan om ’n opname van hulle eerste vollengte album, waarvan vyf van hulle snitte reeds aan gewerk word, moontlik te maak.

“[Die opname] het nog nie begin nie, maar dit gaan gebeur,” sê sy.

Swanepoel, die skrywer van die meeste van Aflos se lirieke, het ook hulle opkomende enkelsnit, wat hulle later sou die aand opgetree het, genoem. Ten spyte van die paar verkeerde woorde en akkoorde, was die rustige en rooskleurige “Story of a Girl” ’n onmiddellike treffer onder die aanskouers (sowel as die muse agter die lied, wat self in die gehoor gesit het).

Later het die oorspronklike groepslede ook ’n moet-luister Aflos headbanger, “A Bit Dark”, opgetree. Na dié ongelooflike vertoning van die aand, behoort Aflos al verblyfreg in Aandklas te kry as hulle voortgaan soos hulle op verlede Woensdagaand het. Hulle naam begin al hoe bekender op kampus raak. Een aanhanger het selfs ’n plakkaat gemaak wat lees: “Father my children, Aflos”. 

Soos die kroeggeluide voor hulle optrede meer luidrigtig raak, sê Meissner: “Hierdie is die soort dinge wat ons wil hê moet gebeur [wanneer mense ons musiek luister].” Die skaregunsteling van Aflos se eerste EP, “Wasting Time”, gaan juis oor ’n goeie tyd saam met goeie geselskap. Probeer die somer lewendig hou deur ’n oomblik of twee van jou studentelewe met Aflos as agtergrondmusiek te leef.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial