Karoliena (Elani Dekker) op die stel in die Knysna-woud.

Toorbos kom landswyd wortel skiet

By Pierré Muller

Toorbos, ’n oorweldigende liefdesdrama met asemrowende beelde en opwindende kinematografie, is landswyd op 13 November 2020 op die silwerskerm te sien. Die fliek is gebaseer op die vierde roman met dieselfde titel wat uit een van Suid-Afrika se bekroonde skryfsters, Dalene Matthee, se reeks bosverhale kom. 

Draaiboekskryfster en regisseuse, Rene van Rooyen, neem met ’n spesifieke uitkoms voor oë agt lewensjare om die filmverwerking van Matthee se topverkopervan 2003 tot sy volle waarde te bring. Siende dat Toorbos so ’n betowerende fliekervaring is, het die vervaardigers dit nodig geag om te wag totdat die publiek weer flieks op die grootskerm kan kyk.

Matthee se bosverhale spreek tot Van Rooyen met betrekking tot die vele vlakke wat elke storie betree. Elk is ’n pragtige liefdesverhaal wat ’n oerbehoefte van die mens vasvang om homself met die natuur te verbind. Matthee weef graag ingewikkelde en universele temas, wat vir jare nog relevant sal bly, in selfs haar eenvoudigste stories in en Toorbos is geen uitsondering nie.

Toorbos ondersoek die ontworteling van ’n jong bosvrou, Karoliena Kapp, gedurende die dertigerjare wat die tyd van die laaste bosbewoners in die Suid-Afrikaanse Knysna-woude was. Dis die verhaal van ’n ingewyde bosvrou se intieme verbintenis met die bos se boomhart. Na sy Johannes, die man van haar drome, ontmoet, lei hierdie betowering met die bos egter tot ’n liefdesdriehoek. Die tweespalk dreig om haar te vernietig as sy moet kies tussen trou en stad toe trek, of agterbly op die plek waar sy veilig voel. Haar besluite lei haar op onvergeetlike avonture en ontbloot wat dit van haar sal eis om aan haarself getrou te bly.

Aangesien die storie nie vir Van Rooyen so eenvoudig is soos dit vir baie ander lyk nie, was daar dikwels konflik oor hoe die storie vertel moet word. “Maar ek kon nie afstand doen van Dalene se soeke nie – die interne konflik van Karoliena, haar anderste liefdesverhaal, en haar bonatuurlike geloof in die bos,” sê Van Rooyen. “Al kon ek nie alles, soos dit in die boek, is in die film vasvang nie, wou ek getrou bly aan die siel van Matthee se boek. Ek wou vashou aan die redes waarom ek die eerste keer op die boek verlief geraak het.” 

Toorbos baar belangrike sosiale boodskappe. Karoliena se liefdesdriehoek met Johannes en die bos is beduidend met betrekking tot die grootste temas in Toorbos, naamlik die konflik tussen ekonomiese ontwikkeling en modernisering en die behoefte om die natuur te beskerm. Kykers word dus sodoende weer deur die fliek herinner aan die mens se outentiekheid en sy vorige konneksie en verhouding met die natuur.

Matthee se in diepte navorsing oor die bosmense skep ’n blik op ’n tyd en plek waarmee mense tans nie meer bekend is nie. Dit is ’n wonderlike en baie unieke tydperk van Afrikanergeskiedenis, naamlik dié van die 1930’s se Carnegie-ondersoeke en die opheffing van arm blankes. Dit kyk na wat die gevolge is wanneer mense uit hulle areas ontwortel word en wat weens die ontworteling verlore gaan. 

Na menigte voorskoue van die fliek, was dit duidelik hoe groot ’n gehoor daarby aanklank sou vind. Van Rooyen bewonder Matthee se geneigdheid om verskeie dele van ’n verskeidenheid mense in die samelewing vas te vang. Nie net is dit ’n verhaal van bemagtiging en ’n vrou in haar eie reg nie; dit behels en dek ook een van ’n man wat van sy verantwoordelikhede bewus raak, die hopeloosheid van ’n ma, die beskerming van die bos, die soeke na spiritualiteit, en die groter kragte daar buite. Dié is karakters en temas wat diep tot Van Rooyen spreek en in die skryfproses na vore kom. 

Van Rooyen beskou Karoliena as ’n belangrike karakter omdat sy lesers leer dat sterk verhoudings slegs bemagtig word wanneer ’n mens tot sy volle self ontwikkel. Ook dan maak die kyker kennis met Johannes wat soveel leer van sy eie rol in die samelewing, sy manlikheid en die verskuiwing wat binne hom moet plaasvind om die vrou vir wie hy lief is, te behou. 

“Meer as dit, is die ‘manlike’ en ‘vroulike’ rolle al vir jare uit balans en [is] dit belangrik vir ’n gesonde samelewing dat elkeen ewe sterk kan staan in hul opinies en aanslag tot die lewe,” beklemtoon Van Rooyen. 

Van Rooyen vertel dat om aan ’n Dalene Matthee-projek te werk, sy eie magiese element bring. Elkeen wat op die stel gewerk het, het ’n reuse verantwoordelikheid op hulle skouers gevoel. 

Met Brendan Barnes as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere Elani Dekker en Stiaan Smith in. “Die akteurs het ook vir maande voor die tyd aan hul karakters begin navors. Alles van dialek tot liggaamsopleiding om hulself voor te berei om die 1930’s bosmense met totale geloofwaardigheid te verteenwoordig,” vertel Van Rooyen trots.

Van Rooyen weet dat die boek vir Matthee baie persoonlik was. “Dalene wou graag haar eie intieme verbintenis met die bos vasvang. My hoop is dat as sy dit sou kon kyk, sy sou voel dat ek haar siel met eerlikheid vasgevang en op die skerm geplaas het. Dat ek getrou gebly het aan wat sy wou sê en die temas waarin sy wou uiting gee.”

Vir Van Rooyen was die filmproses ongelooflik persoonlik. “Karoliena het nie net vir my waardevolle lesse geleer in my huwelik nie, maar ook in my loopbaan. Die omgewing en verfilming diep in die Knysna-woude het my verbintenis met die natuur versterk. Ek geniet die herinnering aan myself dat ons eintlik so klein en so irrelevant is tot die groter prentjie,” sê Van Rooyen. 

Sy meen dat mense se verantwoordelikheid teenoor die wêreld soveel meer is as die gejaag waarin hulle hulself dikwels bevind. 

Toorbos spreek tot die selfvertroue wat uit mense se uniekheid spruit en ook nodig is om struikelblokke te oorkom sodat hulle hulself ten volle kan uitleef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram