’n Halfvol grendeltydperk vir Corné Pretorius

By Karla van Rensburg

Corné Pretorius se eerste enkelsnit, “Vuur en vlam”, het groot opslae tydens die nasionale grendeltydperk gemaak. Nog twee enkelsnitte het gevolg en was verdere bydraes tot die Afrikaanse musiekmark.

“Vuur en vlam” is enkele dae voor die grendeltydperk aangekondig is, geskryf en opgeneem. Dié enkelsnit is deur Francois van Coke en Richaerd Onraet (van Van Coke Studios in Kaapstad) geskryf en vervaardig. Dit is toe in April vrygestel en het heelwat radiotyd geniet. Tecla Ciolfi (die eienares van Suid-Afrika se grootste onafhanklike musiekwebtuiste, Texx and the City) het “Vuur en vlam” as haar moet-hoor liedjie van die week, ook bekend as die weeklikse #TexxTrack, gekies. Die vervaardiger van Fokofpolisiekar se musiekvideo’s, Johan Nel, het die musiekvideo vir “Vuur en Vlam” geskep en het volgens Pretorius die liedjies se gevoel perfek in die video vasgevang. 

Pretorius se tweede enkelsnit, “Vergewe my”, is in September deur sy nuutste treffer, “Halfvol” opgevolg. Met “Halfvol” wou hulle iets lekkers skryf – ’n liedjie wat mense opgewonde maak vir visplakkies, koue drankies en lekker kuier.  

’n Vollengte album kan binnekort verwag word en gaan hoofsaaklik deur Van Coke geskryf en vervaardig word, maar ander bekende name, soos Hunter Kennedy, gaan ook betrokke wees. 

“My eerste album word óf begin Desember óf einde Februarie vrygestel. Ons het gedink om dit in die Paarl te launch, maar wie weet? Dit sal cool wees om dit in Stellenbosch te hou,” brei Pretorius oor sy nabye toekomsplanne uit. 

Pretorius was oorspronklik nie aktief betrokke by die skryf van sy musiek nie, maar soos sy selfvertroue in musiek groei, groei sy deelname in die skryfproses. Rakende die proses verduidelik Pretorius die volgende: “Ons skryf eers ’n catchy melodie en dan kom die woorde. Ons besluit nie vooraf waaroor ons wil skryf nie.”

“Halfvol” beskryf volgens Pretorius sy persoonlikheid perfek, en hy glo dat dit ook in al sy musiek weerspieël word.

Pretorius dink nie dat ’n mens sy musiek kan klassifiseer nie en probeer om oorspronklike musiek te maak aangesien hy nie soos enige iemand anders wil klink nie. 

“Ek maak musiek waarna ék wil luister,” lag Pretorius voor hy erken dat hy seker sy eie grootste fan is. 

Buiten om na sy eie musiek te luister, luister Pretorius ook graag na Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf en Francois van Coke. Hy sê dat hy graag saam met dié kunstenaars ’n Kirstenbosch-vertoning sal wil hou en meen dat dit definitief in sy toekoms is.

Vir meer inligting rakende opkomende optredes en vrystellings, kan Pretorius by @cornepretoriusmusiek op Instagramgevolg word. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram