Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

By Karla Van Der Merwe

Na ’n lang afwagting op die voltooing van die oorsprong van al die werskaf langs die Neelsie, is die wag byna verby. Die Jan Mouton Leersentrum, wat as algemene leerfasiliteit vir studente gaan dien, se finale afrondingswerk word in Desember 2020 voltooi. Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), sê dat hulle hoop dat die sentrum teen Januarie 2021 operasioneel sal wees. Alhoewel die gebou nie aan ’n spesifieke fakulteit toegeken gaan word nie, sal die eerste studente wat die lesinglokale gaan gebruik, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe- (EBW) en Ingenieursstudente wees, aangesien die EBW-fakulteit rekenaars aan die projek geskenk het.

Tydens ’n toer van die gebou verduidelik Kalla Smit, argitek van die projek, dat die Jan Mouton Leersentrum op die grondvloer oor twee identiese lesinglokale met 260 sitplekke elk beskik. Hierdie addisionele lokaalkapasiteit beantwoord die universiteit se aanvraag op ’n groter aantal groot lesinglokale. Hierdie lesinglokale is ontwerp met groepwerk in gedagte en het stoele wat 360° kan draai om studente se kommunikasie met diegene om hulle te vergemaklik. Die lesinglokale is ook rolstoel-vriendelik. 

Die sentrum se eerste vloer het vier elektroniese klaskamers wat gelyktydig ongeveer ’n duisend studente gedurende een elektroniese assesseringsessie kan akkommodeer. Elkeen van die elektroniese klaskamers het normaalweg 130 tot 150 sitplekke, maar die uitleg kan maklik verander word om byvoorbeeld verskillende kapasiteitsbehoeftes te vervul of om groepwerk te bevorder. Die lokale word verder deur akoestiese panele geskei om te verseker dat geen geraas tydens assesserings deurkom nie. 

Die boonste vloer is multi-funksioneel en kan volgens Smit ook gebruik word om konferensies te fasiliteer. Die lokale op dié vloer is oop en kan met los meubels gevul word, maar ook met ’n klein verhogie om ’n TED Talk-tipe area te skep. 

Smit wys ook tydens die toer die leersentrum se genderneutrale badkamers uit. Dié badkamers bestaan uit individuele toilethokkies met wasbakkies binne in en word ter wille van privaatheid deur ’n muur van die res van die vloer geskei. Die ontwerp laat vir twee toegangspunte toe.

“Ons het die idee van slegs een ingang intimiderend gevind,” verduidelik Smit aangaande die badkamers se uitleg. “Deur ’n in- en uitgang aan beide kante te hê, vermy ons moontlike  stigmas en die kans dat iemand vasgekeer voel.”

Projekbestuurder Charin Skeen vertel ook dat die gebou oor 99 ondergrondse parkeerplekke beskik om die plekke wat oorspronklik langs die Neelsie was, te vervang. Dit sal kommersieel besit word en studente wat daarvan gebruik maak, sal vanuit die parkeerarea direkte toegang tot die Neelsie hê. Daar is ook 30 bogrondse parkeerplekke wat deur die gebou besit word. 

“Die totale projekwaarde beloop R256 miljoen waarvan R84,85 miljoen vanaf donateurs ontvang is,” sê Viljoen. “Ons het ook ruim bydra van R73,99 miljoen vanaf die Departement  van Hoër Opleiding en Onderrig ontvang.” 

Buiten die R50 miljoen wat Jannie Mouton in 2016 bygedra het, is R31 miljoen ook vanaf die Inligtings- en Kommunikasietegnologie (IKT) in Leer en Onderrig en verskeie ander US-befondingsbronne ontvang.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial