Arnold Schoonwinkel

Prof Schoonwinkel groet US na 28 jaar

By William Sezoe

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs bekend gemaak dat prof Arnold Schoonwinkel aan die einde van die jaar van sy posisie as Viserektor vir Leer en Onderrig (L&O) sal uittree. Schoonwinkel se posisie gaan vanaf 1 Januarie 2021 deur prof Deresh Ramjugernath oorgeneem word.

Volgens prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, is Schoonwinkel ’n navorser van formaat wat ’n groot bydrae tot die US-gemeenskap gelewer het. “Ons groet ’n kollega wat ’n groot impak tot die US gemaak het. Gedurende sy roemryke loopbaan aan die US, het hy gedien as ’n akademikus, navorser, navorsingsbestuurder, departementshoof, mede-dekaan, ’n dekaan vir twee termyne en uiteindelik die viserektor vir L&O vir twee termyne. Prof Schoonwinkel is nie net ’n simbool van die US se waardes nie, maar ook ’n voorbeeld van integriteit en etiese leierskap vir studente en personeel. Die US wil hom graag bedank vir sy enorme bydrae tot die bevordering van ons universiteit oor die afgelope paar dekades van diens en wens hom ’n welverdiende aftrede toe,” noem De Villiers.

Na meer as 10 jaar by ’n privaat ingenieursbedryf in Gauteng, het Schoonwinkel in 1993 by die US aangesluit as ’n mede-professor by die Departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Dis hier waar hy ook ’n ander betekenis vir vakansie geleer het toe die destydse departementshoof opgemerk het dat hy harder gaan werk as ooit tevore.

“’Mensig,’ het ek gedink, ‘ek kom uit die privaatsektor waar alles gegaan het oor produktiwiteit en geldmaak; hoe is my professor se stelling moontlik met al die vakansies wat ’n universiteit het?’” verduidelik Schoonwinkel.

“Gou het ek agtergekom dat in kwartaaltyd is dit klasgee, praktiese en tutoriale lei, eksamens opstel en nasien, studente se vrae beantwoord en in die ‘vakansies’ is dit produseer van navorsingsuitsette. Die produktiewe tyd het maklik tussen 70 en 80 ure per week beloop. Maar, dit was lekker werk!” sê Schoonwinkel.

Na drie jaar is Schoonwinkel na ’n posisie as voltydse professor bevorder. Volgens hom was sy interaksies met sy studente van sy beste herinneringe: “My interaksie met jong, leergierige studente in my vakgebied (rekenaar- en beheerstelsels) was uiters stimulerend. Van die aangenaamste herinneringe was ook die naweekstaptogte saam met nagraadse studente en die lang stories gesels om die kampvure.”

As navorser het Schoonwinkel indrukwekkende werk gedoen wat nasionale en internasionale ondersteuning verkry het. Volgens Schoonwinkel was sy gunstelingervaring as toegepaste navorser toe hy saam met meer as ’n 150 meesters- en doktorale studente oor ’n tydperk van sewe jaar aan Suid-Afrika se eerste satelliet (SUNSTA) kon werk. 

Oor dié satelliet het Schoonwinkel die volgende te sê: “Dit was ’n voorloper as ’n klein mikrosatelliet (80kg) met ’n groot kamera, en [dit] kon kleurfoto’s enige plek in die wêreld afneem en aflaai by die grondstasie in die US-Ingenieursgebou. Dit was voor die dae van Google Earth. SUNSAT is in 1999 deur NASA lanseer en ons studente het dit vir drie jaar lank bedryf.” 

Hy voer aan dat SUNSAT ook radiosenders aan boord gehad het met die doel om leermateriaal vir leerders in afgeleë gebiede af te laai.

Schoonwinkel noem dat hy op ’n tyd ’n “professionele bedelaar” was in sy poging om geld vir beurse vir nagraadse studente en komponente vir SUNSAT in te samel. Hy voer aan dat hy dit egter nie alleen sou kon regkry nie. “Ek gee ook erkenning aan vele talentvolle en briljante kollegas aan US wat aan die satellietprojek gewerk het, en as ek mag aan twee persone wat saam met my geglo het [dat] ons studente ’n [kan] satelliet bou en vlieg: professore Garth Milne en Jan du Plessis (ongelukkig is beide sedertdien oorlede),” noem Schoonwinkel.

Oor amper meer as drie dekades by die US, het Schoonwinkel al talle historiese gebeurtenisse op kampus beleef wat hy glo die US gehelp transformeer het om meer inklusief te wees. Volgens Schoonwinkel was Suid-Afrika nog lank nie gedemokratiseer toe hy by die US aansluit nie, maar dat hy bevoorreg was om die US later te help herposisioneer. 

“Ek het sedert die laat 1990’s die voorreg gehad om deel van die US-raad en Bestuur se strategiese beplanning te wees om die SU te herposisioneer om ’n totaal inklusiewe universiteit vir almal in Suid-Afrika te word,” verduidelik Schoonwinkel.

Schoonwinkel noem dat hy ook verskillende uitdagings gedurende sy twee termyne as Viserektor vir Leer en Onderrig moes aanpak. Hy verduidelik dat dit kwessies soos geslagsgebasseerde geweld, die Fees must fall-protesaksies en selfs die US-taalbeleid-saga insluit. 

“Van die grootste uitdagings waarmee ek in my termyn as Viserektor (L&O) te doen gekry het, was die omvorming van die US se Taalbeleid. Dit was ’n moeilike proses met menings wat varieer het van ‘Afrikaans word vernietig’ tot ‘Afrikaans word steeds gebruik om mense uit te sluit’. Ek glo dat US se huidige meertalige Taalbeleid goed daarin slaag om US se kundigheidsbasis beskikbaar te maak vir studente en personeel uit verskillende taalagtergronde,” meen Schoonwinkel.

Behalwe al die uitdagings wat hy moes aanpak, sê Schoonwinkel dat hy ook oor sy jare by die US tot nuwe insig kon kom. Hy verduidelik dat hy baie vanaf die diverse studente-gemeenskap en personeelliggaam geleer het. “Ek glo en verstaan die aard en rol van ’n universiteit beter, [en het] ’n waardering vir die bate van ’n diversiteit van idees en die vryheid om dit deur robuuste debat te toets,” sê Schoonwinkel. 

Schoonwinkel meen dat hy beslis Maties se geesdriftigheid gaan mis. “Ek sal altyd die vibe op ons kampusse onthou wanneer ek iewers heen kon stap [op pad na] ’n afspraak. Die hoogtepunte van vele dae is wanneer ’n student my voorkeer met ’n ‘Hi prof’ en die toutjies optel van vorige interaksies wat ons gehad het. Verder, om soms net in die Neelsie te sit en terwyl niemand my herken nie, te bewonder hoe die studente leef en beef en gedurig lag!” sê Schoonwinkel.

Schoonwinkel gee ten slotte die volgende raad aan studente: “Geniet US – dis ’n wonderlike instelling om deel van te wees. Nie net vir die geleentheid om te leer en ons loopbane te bou nie, maar as gevolg van die interessantste mense wat hier is. As ek terugdink, het ek goeie keuses gemaak om die aanbiedinge wat ek in die ingenieursbedryf en internasionaal gekry het van die hand te wys. Gryp elke dag aan met ’n positiewe gesindheid, en moenie jou te veel aan kritiek steur nie. Ek is oortuig US sal aanhou floreer.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram