DEUR MARELI SWART
Koos Kombuis is ’n household-naam. Hy is bekend as iemand wat die the road less travelled neem en iets sê soos dit is. Hy is op 28 Oktober 2020 terug by Aandklas met ’n show wat beide die gehoor en mede-kunstenaars sal verras. Mareli Swart gesels met Kombuis.
Kombuis het veel te sê oor sy ervaring van die kamera-gehoor tydens die grendeltyd. “Die aanlyn-shows was in die begin moeilik en ek was senuweeagtig. Dit het beter gegaan toe ek later ’n paar vriende kry om dit by te woon in plaas daarvan om te voel ek sing net vir die kamera,” vertel hy. Hy sien egter uit na ’n vertoning vir meer as net vyf mense, want volgens hom is “live musiek anders as om ’n boek te skryf: dis ’n happening.”
Die sanger vertel dat hy besluit het om die vertoning te hou na aanleiding van die grendeltydperk wat so lank geduur het. “Hel, ek kom al ’n lang pad met Aandklas se venues, in Pretoria en ook in Stellenbosch, maar soos julle weet het dinge vir ons uitvoerende kunstenaars nogal stilgestaan vir meer as sewe maande!” verduidelik hy.
Wat luisteraars kan verwag, is egter nog ’n verrassing. Kombuis verduidelik: “Aan die een kant voel ek baie verroes, maar aan die ander kant spring daar dalk ’n paar nuwe idees uit! Eintlik het ek geen benul hoe om hierdie show te benader nie, maar ek sien uit na die interaksie met die gehoor.”
Tussendeur die gewildheid van sy vertonings, vergeet aanhangers soms dat Kombuis ook ’n skrywer is. Hy het vroeër vanjaar Sushi with Hitler gepubliseer wat hy as “’n irrelevante en onbelangrike publikasie” bemark het. Hy was verbaas toe Naledi die boek wou uitgee, omdat dit irrelevant is ten opsigte van sy eie career en hoe mense hom sien. Die boek spreek ook nie aktuele, Suid-Afrikaanse of Afrikaanse issues aan nie, en is ook nie soos sy vorige werke outobiografies nie. Vir hom sê die boek eintlik niks.
Oor die skryfproses van sy onlangse boek, het Kombuis die volgende te sê: “Dis basies ’n spel met woorde en intertekstuele verwysings, amper soos ’n literêre Sudoku. Ek het geweldig baie pret daarmee gehad en, ja, ek dink elke kunstenaar moet ten minste een keer in sy lewe iets produseer wat bloot ‘art for art’s sake’ is, sommer net vir die jol.”
Buiten om as verhoogkunstenaar en skrywer wees sy stem te laat klink, staan Kombuis ook nie terug wanneer dit by kommentaar lewer kom nie. Hy het dit goed reggekry om die Afrikaanse letterkunde se “grotes” af te breek in sy kortverhaal, “,”, wat hy tydens die grendeltyd deur LitNet publiseer het. Sy redes vir die skryf van die kortverhaal het ontstaan gedurende ’n tyd in die inperking toe hy neerslagtig gevoel het.
Oor die verhaal en die mengelmoes van gevoelens rondom die Afrikaanse letterkunde, het Kombuis die volgende te sê: “Hoe ontsnap ’n mens die vloeke van die verlede? Hoe skuldig moet ons voel oor foute wat ons voorvaders gemaak het? Dan, die onbeskryflike gemengde gevoelens: soveel wonderlike letterkunde deur sulke groot skrywers soos Breyten en Van Wyk Louw is geskep in ’n tyd van morele ambivalensie. Daarom is die titel van die verhaal slegs ’n komma.”
Koos Kombuis toets lankal al reeds perke. In die Voëlvrybeweging van die laat 1980’s het hy, asook Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand, rock-musiek gebruik om die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke werklikheid van apartheid te kritiseer. Die blywende impak wat die beweging op die Afrikaanse kunsbedryf gehad het, is volgens Kombuis dalk slegs die produk van ’n polities naïewe move, maar hy sê ook dat hy alles presies dieselfde van vooraf sou doen as hy sy lewe kon oorhê. “Ek weet dit was alles waansin, maar ons kon nie anders nie,” vertel hy.
Aanhangers moenie dink dat Koos Kombuis na die kwarantyn se kreatiewe vlugte gaan stilsit nie; hy het weer wakker geword. Hy is net opsoek na die “taal en tunes” om sy nuwe gedagtes mee uit te druk, maar sê dat die eerstes dalk “nie baie sense gaan maak nie”. Koos Kombuis is nog hier: hy sing nog, skryf nog, en is nie van plan om gou op te hou nie.