Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR WILLIAM SEZOE

Met onderwysstudente wat nie meer hulle praktiese ondervinding kan kry nie as gevolg van skole wat steeds gesluit is weens Covid-19, het onderwysstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs gratis aktiwiteitspakkette vrygestel om steeds tot leerders se opvoeding te kan bydra.

Die pakkette is saamgestel deur die Beyond Education-program, wat ’n inisiatief van die Onderwys Studente Komitee (OSK) se sosiale impak portefeulje is. Beyond Education is in Februarie vanjaar geloods, en hulle het kort voor die grendelstaat koppe bymekaargesit om ’n plan te beraam om leerders wat nie toegang tot internet en e-leermateriaal het nie te help.

Volgens Marcel Adams, stigter van die program en lid van die OSK, het die groep die aktiwiteitspakkette vir graad R tot graad 9 ontwerp om onderwysers, wat weens die inperking nie kan skoolhou nie, te help deur kurrikulum-relevante aktiwiteite saam te stel.

“Ons het besef dat onderwysers met die inperking nie alle werk kon afhandel vir die eerste kwartaal nie. Ons het ook besef dat nie almal die nodige toegang tot internet het nie, dus het ons dit goedgedink om in te spring,” vertel Adams.

Adams sê die pakkette sluit aktiwiteite vir die leervakke Afrikaans, Wiskunde en Engels in. Dit is op so ’n manier opgestel dat dit via WhatsApp gedeel kan word, aangesien meeste mense toegang tot hierdie platform het.

Volgens Linmari Matthee, ’n vierdejaar-student wat ook deel van die program is, is daar reeds tot so ver as die Oos-Kaap en Namibië aanvraag vir die pakkette.

“Om deel te wees van hierdie inisiatief gee my werklik ’n warm gevoel in my hart, omdat ek eerstehands beleef het hoe dankbaar mense (tot in Oudtshoorn) is vir die hulp. Dit gee vir my ook ’n voorsmaak van wat ek moontlik volgende jaar as beginner-onderwyseres gaan moet doen en vir daardie ondervinding is ek dankbaar. Dit is vir my wonderlik om die projek as ’n groep, wat almal dieselfde doel in sig het, aan te pak. Dit gee my hoop vir wat die jeug nog gaan bereik,” sê Matthee.

Volgens Adams wil hulle ook deur die program maatskaplike kwessies aanspreek deur skole te besoek en bewusmaking oor omgewingsbewaring te doen om hulle “deel as toekomstige onderwysers en leiers te beklemtoon”.

Volgens Adams het verskeie van hul inisiatiewe platgeval, as gevolg van Covid-19 en die grendelstaat, maar hulle is intussen met nog ’n inisiatief besig. Hierdie inisiatief sal spesifiek matrikulante aanmoedig in die vorm van ’n handleiding met verskeie wenke en motiveringsboodskappe.

“Ons sou met die nuwe kwartaal ’n skool besoek om met die klas van 2020 te gaan gesels en om hulle te motiveer vir hul eindeksamen wat voorlê. Ons het wel met ’n nuwe manier na vore

gekom – om vir hulle ’n matriek-survivalguide elektronies op te stel – en deur dieselfde manier wat ons die aktiwiteitspakkette uitgestuur het, aan verskeie matrikulante aan te stuur,” sê Adams.

Volgens prof. Michael Le Cordeur, voorsitter van Kurrikulumstudies by die fakulteit opvoedkunde, kan vorms van e-leer soos die pakkette wat die Beyond Education-groep ontwerp het, die nuwe normaal word.

“Die land sal nooit weer dieselfde wees nie. COVID-19 vra vir nuwe oplossings en nuwe denke. Elektroniese leer is verseker deel van die toekoms, maar as ’n land is ons nog ver van gereed daarvoor. Die departement van onderwys, maar ook ons as ’n universiteit, sal baie meer moet doen om die gaping te verklein,” noem Le Cordeur.

Indien enige iemand wil betrokke raak, ’n bydrae wil lewer of meer oor die program wil uitvind, kan Adams gekontak word by 23240806@sun.ac.za.

One thought on “US-onderwysstudente neem voortou in e-leer

  1. ever says:

    Why did die Matie on facebook highlight this article in English if it’s written in Afrikaans, a se ho re tloaela hampe nthoeo?

Comments are closed.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial