DEUR KARLA VAN DER MERWE
Met COVID-19 wat tans ’n groter aanvraag op persoonlike beskermende toerusting vir mediese personeel plaas, bied die We Fight Back COVID-komitee, ’n studente-vrywilligersgroep op die Tygerbergkampus, ’n oplossing in die vorm van driedimensionele gedrukte maskers.
Volgens Luné Smith, algemene bestuurder van We Fight Back COVID en ’n vyfdejaar-MBChb-student, het dr. Rudolph Venter, ortopediese chirurg en dosent by die Tygerberg-kampus, haar gekontak nadat hy die inisiatief om 3D-gedrukte maskers te skep, begin het, waarna sy die komitee betrokke gekry het. Die komitee werk nou om die maskers so gou as moontlik te produseer en tussen Tygerberg Hospitaal se personeel te versprei.
“Ons beraam tans dat ons ongeveer 200 maskers elke twee weke kan maak, afhangend van hoe lank dit vir die drukkers neem om klaar te maak,” sê Smith. Agt kopdele van die maskers word op ’n slag gedruk, en dit neem omtrent 21 ure. Daarna word die res van die komponente bygevoeg. Aangesien die afdeling van ortopediese chirurgie se 3D-drukkerlaboratorium net ’n beperkte hoeveelheid drukkers het en dit ’n tydrowende proses is, maak die komitee staat op die publiek om ook hulle eie drukkers vir die projek aan te bied.
Smith noem dat hulle genoeg filament het om aan vrywilligers te verskaf om kopstukke te druk, maar dat hulle nie genoeg drukkers het om self groot hoeveelhede op ’n dag te druk nie. Hulle het al ’n totaal van 170 maskers uitgedeel en beplan om binnekort nog 200 te versprei.
Buiten Victories Visors, soos die 3D-maskers-projek bekend staan, bestuur We Fight Back COVID ook vier ander projekte. Dr. Lauren Lai King, wat die projek bestuur, verduidelik dat Spacers for Hope ’n projek is wat op die versameling en prosessering van plastiekbottels, wat in afstandhouers (beter bekend as spacers) omskep gaan word, gefokus is. Hierdie afstandhouers word saam met afgemete dosis-inhaleerders (MDI) as ’n alternatief vir nebulisasie in die behandeling van COVID-19 gebruik. Die We Fight Back COVID-komitee se vrywilligers het al die plastiekbottels bymekaar begin maak wat op die Tygerberg Mediese Kampus gestoor word. Volgens dr. Lai King wil die komitee sosiale media gebruik om mense meer bewus te maak van die projek, sodat die gemeenskap kan help met die versameling van plastiekbottels.
Corona Curriculum, ’n ander We Fight Back COVID-projek, beoog weer om die publiek oor belangrike aspekte van COVID-19 in te lig. Volgens prof. Keymanthri Moodley, direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en Regte, werk die studente wat hierby betrokke is deur die nuutste literatuur oor COVID-19. Met hierdie nuwe kennis kan hulle betroubare inligting oor die voorkoming en komplekse behandelingsmodaliteite, soos ventilators en intensiewesorgeenheid, sorg en toesig oordra. Prof. Moodley help met die projek en hersien die inhoud wat vir die kurrikulum geskep word.
“Ons word tans deur baie fopnuus oorweldig en wanneer ons uiteindelik begin om regte inligting te kry, het ons gevind dat die publiek dikwels nie die jargon en implikasies van wat gesê word, verstaan nie,” verduidelik Smith. “Sommige posts sal meer op mediese studente gefokus wees terwyl ander weer mik om vir diegene wat minder vertroud is met onderwerpe van die mediese wêreld te verduidelik.”
Ander projekte behels Ward Warriors, waar die komitee moeders en babas in die Kangaroo Moeder-sorgeenheid ondersteun, asook Masking it, ’n projek wat poog om die publiek oor die gebruik van maskers in te lig, asook om maskers te maak vir diegene wat nie kan nie.
We Fight Back COVID kan op Facebook en Instagram gevolg word by @we.fight.back.covid waar hulle dikwels plaas wat hulle nodig het. Tans verkies die komitee donasies in die vorm van materialewat hulle nodig het of die betaling van rekeninge. Daar word egter nog gewerk daaraan om ’n bankrekening vir die komitee te skep.