FOKUS Iver Aanhuizen, Jaquin Martinus en Hein Kritzinger voor ‘n wedstryd die naweek in Johannesburg. Foto: Carlo Jonkerman

Maties-Sewes sien silwer rand

ANNERINE SNYMAN

 Maties-Sewes het die af­gelope naweek hul staal gewys in die Varsity Sports Sewes-toernooi in Johan­nesburg.

Alhoewel dié span met die sil­wermedalje tevrede moes wees, was hulle poging glad nie te versmaai nie.

Maties het die toernooi Vrydag afgeskop deur hulle eerste twee wedstryde teen Walter Sisulu-Uni­versiteit en die Kaapse Skierei­land Universiteit van Tegnologie (KSUT) te wen met 21-19 en 34-19 onderskeidelik.

Hulle veldtog het egter later die dag ’n ompad geneem toe hulle teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) die knie gebuig het met ’n 22-24 nederlaag.

Saterdag het hulle teen die Noordwes-Universiteit (Pukke), asook die Universiteit van Pretoria (Tuks) te staan gekom. Met her­nude momentum aan hulle kant het Maties 31-14 en 24-5 onder­skeidlik hierdie spanne geklop om die finaal teen die Universiteit van Johannersburg (UJ) te haal.

UJ, ook bekend as die Orange Army, het verlede jaar die titel mis­geloop toe hulle teen Tuks in die finaal gesneuwel het.

In Saterdag se finaal het UJ van die begin af vinnige spel ten toon gestel. Al is een van hulle spelers vroeg in die wedstryd met ’n geel­kaart afgestuur, kon Maties hulle nie onder beheer kry nie. UJ het ook op die power play (waar drieë 10 punte elk tel) staatgemaak om teen halftyd 15-0 voor te loop. UJ se Odwa Nkunjana, speler van die toernooi, het met ’n drie in die tweede helfte die doodslag vir Maties beteken en UJ het uiteinde­lik die beker gevat met ’n telling van 20-0.

Maties was sonder een van hulle uitstaande spelers, Michael Visser, wat in die semi-finaal ’n heupbesering opgedoen het en nie aan die finaal kon deelneem nie.

“Die besering, was nie baie lekker nie. Ek sou graag deel van die finaal wou wees,” sê Visser. Hy verduidelik egter dat die besering nie “te ernstig” is nie en dat hy vir ongeveer twee weke uit sal wees.

Ian Campbell-McGeachy, Mat­ies-afrigter, meen dat Visser ’n “ongelooflike speler” is. Verder verduidelik hy dat “om met 11 spelers in ’n finaal in te gaan, sal altyd ’n invloed hê”.

Weens die vinnige en veelei­sende aard van sewesrugby teenoor vyftienmanrugby, is af­rigters geneig om meer op hul reserwes staat te maak – ’n taktiek waarvan Campbell-McGeachy de­urgaans oor die naweek gebruik gemaak het.

Nog ’n speler wat Camp­bell-McGeachy glo “ongelooflike rugby-vermoëns” het, is George Lourens. “Ander spelers floreer rondom hom as gevolg van sy visie en vaardighede. Hy sien ge­leenthede raak wat verdedigers uitoorlê,” verduidelik hy.

Vir Iver Aanhuizen, Mat­ies-kaptein, is dit reeds ’n “groot eer” om in die finaal te kon speel. “Dit is een van ons doelwitte van­jaar – ons wil in die eindstryde van elke toernooi waaraan ons deelneem, speel. So, dít is die ingesteldheid waarmee ons in­gegaan het,” sê hy.

Aanhuizen meen dat daar ’n paar besluite is wat gedurende die finaal nie na hulle kant toe gegaan het nie en dat hulle ’n taai aanloop tot die wedstryd gehad het.

Daar is egter ’n silwer rand wat Aanhuizen na afloop van die toernooi uitlig. Hy glo Maties “is een van die top sewesspanne in die land” en dat baie van die jong spelers hul kant gedurende die wedstryde gebring het.

Visser het aan die einde van die toernooi die Pulse Try of the Tour­nament-toekenning ontvang vir ’n wegholdrie wat hy teen Pukke gedruk het.

“Om met so ’n toekenning ver­eer te word is altyd lekker,” sê hy. “Daarmee saam kom ook trots. Ek moet vir my span ook erkenning gee – sonder hulle sou ek dit nie kon doen nie. Dit dui ook op ons harde werk deur die seisoen, so dit is ’n kersie op die koek.”

Maties sal vir die volgende vyf weke aan die WP-sewesliga deel­neem, wat hierdie naweek afskop en Campbel-McGeachy meen “dit sal lekker wees om die toernooi te wen” en glo dit dien as motivering vir die spelers.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram